Die VF Plus in die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad) het die plaaslike voortslepende waterkrisis na distriksvlak verwys nadat krane in die munisipaliteit die afgelope week uiteindelik opgedroog het.
Die VF Plus het 'n skrywe gerig aan die burgemeester van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit, Walter Mngomezulu, en gevra om dringende ingryping in die munisipaliteit se waterkrisis.
Watervoorsiening aan inwoners van die munisipaliteit en omliggende gebiede is ‘n groot bron tot kommer vir die VF Plus.
Alhoewel waterskaarste ‘n bydraende faktor is met watervoorsiening, is die bestuur van waterbronne en -toevoer nie op ‘n aanvaarbare standaard nie.
Die munisipaliteit se gebrek aan beplanning en beheer oor waterbronne speel ‘n groot rol in die waterkrisis.
Die watersuiweringsaanlegprojek is nooit voltooi nie aangesien die R55 miljoen wat geoormerk is om die aanleg op te gradeer, gebruik is om lopende munisipale kostes te dek.
Die munisipaliteit het ook vir etlike dae geen noodwatervoorsiening aan die geraakte gebiede gelewer nie. Inwoners het self ingespring en boorgate aan die gemeenskap beskikbaar gestel.
Teen Sondag, 9 Oktober het die munisipaliteit eindelik besluit om die kragopwekkers by die watersuiweringsaanleg aan te skakel om water na die betrokke wyke te pomp.
Die volume water wat voorsien is, kon egter nie aan die hele gemeenskap se behoeftes voldoen nie en baie krane is steeds droog.
Die VF Plus het reeds 'n versoek om verdere befondsing ingedien.
‘n Bewusmakingsveldtog moet ook van stapel gestuur word om inwoners bedag te maak daarop om water spaarsamig te gebruik en vermorsing te bekamp.
Die toegang tot skoon water is ‘n grondwetlike reg en dit is die munisipaliteit se plig om watervoorsiening aan gemeenskappe te verseker.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om skaars waterbronne behoorlik te benut tot voordeel van al sy inwoners.