fbpx
Vryheidsfront Plus

Mediese regseise teen departement van gesondheid ‘n enorme R125 miljard

Daar is tans 15 148 eise teen die departement van gesondheid met ‘n totale waarde van R125 miljard. Dit het sedert 2021 met sowat ‘n miljard rand aangegroei. Altesame 96% van hiervan is mediese regseise.

Hierdie skoknuus is vanoggend tydens ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid deur die ouditeur-generaal (OG) bekend gemaak.

In ag genome hoe beroerd dit tans in die openbare gesondheidsektor gaan, is dit te verstane waarom die eise teen die departement so buitensporig hoog is.

Die VF Plus het vroeër vanjaar die menseregtekommissie (MRK) versoek om die behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale te ondersoek.

Die VF Plus het self ‘n veldtog hieroor geloods en die klagtes stroom reeds in na die party.

Die minister van gesondheid het onlangs in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus gesê daar bestaan ‘n agterstand van 175 000 mediese prosedures.

Baie hiervan is waar hospitale operasies moes kanselleer omdat lugverkoelers in teaters nie werk nie en daar kommer bestaan dat infeksies by pasiënte kan ontstaan.

Dit is ‘n aanduiding van die ondraaglike toestande wat in staats- en provinsiale hospitale bestaan.

Die VF Plus moes die afgelope Donderdag (6 Oktober) ‘n vierjarige pasiënt by die Verre Oosrand-hospitaal in Gauteng met ‘n sleg gebreekte arm te hulp snel om dringend ‘n operasie te kry.

Dit is ‘n enkele voorbeeld van die gereelde klagtes wat die VF Plus ontvang van mense wat in groot nood verkeer. Die party probeer help waar hy kan en is bly indien die pogings vrugte afwerp.

Wat die OG se verslag oor eise teen die departement van gesondheid aanbetref, gaan die VF Plus aandring op ‘n volledige verslag oor al hierdie regseise.

Daar moet verslag gedoen word oor presies wat die onderskeie eise behels en wat die redes en oorsake is.

Indien die regering bevoeg was en staatshospitale effektief bestuur was, sou die departement nie met hierdie enorme eise gesit het nie.

Geld wat aan eise uitbetaal word, kan veel eerder aangewend word vir die opknapping van infrastruktuur, die bou van nuwe hospitale, die aankoop van mediese toerusting, medisyne en vir die vul van kritieke poste soos verpleegsters en dokters.

Dit is ‘n feit dat wanbestuur, wanadministrasie en korrupsie die eens effektiewe openbare gesondheidstelsel totaal en al vernietig het.

Onder die ANC sal dit nie gered kan word nie, veral nie die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie.

Die openbare gesondheidstelsel moet eers ten volle reggeruk word voordat die NGV-wetsontwerp enigsins oorweeg kan word.

Selfs dan moet mediese kundiges nuwe en beter planne vir ‘n nasionale gesondheidstelsel ontwerp en van stapel stuur.

Daar kan op geen manier van ANC-politici verwag word om kwaliteit gesondheidsorg van hoëstaande gehalte aan Suid-Afrikaners te lewer nie.

Die private gesondheidsektor moet intussen toegelaat word om te werk en ‘n goeie diens aan sy lede te lewer. Die nasionalisering van hierdie sektor gaan gesondheidsorg net verder laat verswak.

Die onderskeie provinsies se aandeel in die regseise van R125 miljard is as volg:

1. KwaZulu-Natal: R31 700 653 860,09
2. Oos-Kaap: R30 784 682 000,00
3. Gauteng: R23 032 525 914,21
4. Limpopo: R14 291 785 417,00
5. Mpumalanga: R9 600 000 000,00
6. Noordwes: R5 958 891 330,00
7. Vrystaat: R5 017 151 663,41
8. Wes-Kaap: R3 356 241 531,46
9. Noord-Kaap: R1 564 225 626,46

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.