Terwyl riool in die strate loop, waterlekkasies tot massiewe verliese lei, paaie verkrummel en kritieke behuisingsprojekte halfklaar staan, het Vrystaatse munisipaliteite oor die afgelope agt finansiële jare R3,8 miljard aan voorwaardelike toelaes verbeur.
Hierdie fondse, wat spesifiek bedoel was om infrastruktuurkrisisse aan te spreek, is nou ongebruik terug by die nasionale tesourie.
Munisipaliteite verbeur hul toelaes wanneer projekte waarvoor dit toegeken is, nie binne die bepaalde tydperk voltooi word nie.
Die grootste oortreder was die Mangaung-metro, wat meer as R1,9 miljard moes terugbetaal aan die nasionale tesourie.
Ander munisipaliteite wat ook groot verliese gely het, sluit in Ngwathe (R247 miljoen) en Matjhabeng (R200 miljoen).
Hierdie verlore toelaes kon ‘n groot verskil gemaak het in infrastruktuurontwikkeling, water- en sanitasiedienste, instandhouding van bestaande dienste en selfs ekonomiese groei.
Die Vrystaatse munisipaliteite wys by herhaling dat projekbestuur onder ANC-leierskap faal. Die kultuur van verbeurings in die Vrystaat is buite beheer aangesien die provinsiale regering in tien jaar ook aan nasionale tesourie R1,3 miljard moes teruggee.
Hierdie toelaes is spesifiek geskep om die lewenskwaliteit van veral arm gemeenskappe te verbeter.
Ongelukkig het jare se swak beleidstandpunte, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) en die beheptheid met kaderontplooiing die teenoorgestelde effek gehad.
Die mense van die Vrystaat betaal die prys vir die ANC se korrupte en onbevoegde bestuur.