Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Voorgesette kragonderbrekings staar Kemptonpark-inwoners in die gesig weens veroudering van 66kV-oliekabelnetwerk

Die onbetroubare oliekabel-kragnetwerk in Kemptonpark wat gereelde kragonderbrekings veroorsaak moet dringend met ʼn moderne kragnetwerk vervang word.

Die verouderde 66kV-oliekabelnetwerk het onlangs ‘n kragonderbreking van 52-uur in Birchleigh veroorsaak. Hierdie onderbreking was die gevolg van veelvuldige hoogspanning-kabelonderbrekings.

Die 66kV-oliekabelnetwerk, wat 77 jaar gelede geïnstalleer is, word toenemend onbetroubaar veral in die groeiende vraag na elektrisiteit.

Luidens statistieke het Birchleigh die afgelope ses maande vyftien kragonderbrekings ervaar wat elk gemiddeld agt ure lank geduur het.

Die onlangse onderbreking van 52-uur is een van die langste en die mees ontwrigtende voorval nog. Sowat 5 000 huishoudings en 700 ondernemings is deur die jongste onderbreking geraak.

Die VF Plus het ter oplossing die volgende aan die Ekurhuleni-metro se departement van energie voorgestel:

• Die mees doeltreffende en langtermyn-oplossing vir hierdie voortdurende probleem is om die verouderde oliekabelnetwerk te vervang met moderne alternatiewe. Die proses is gedurende die veelpartyregering (VF Plus, DA, ActionSA, IVP en ACDP) begin, maar het doodgeloop met die oorname van die ANC/EFF-regering in Ekurhuleni.

• Hoëspanning XLPE-kabels: Kruisgekoppelde poliëtileen (XLPE)-kabels is bekend vir hul duursaamheid, doeltreffendheid en weerstand teen hoë temperature. Hulle bied ‘n betroubare alternatief vir oliekabels en het ‘n langer lewensduur.

• Ondergrondse kabelstelsels: Opgradering na moderne ondergrondse kabelstelsels kan die risiko van kragonderbrekings wat veroorsaak word deur eksterne faktore soos weerstoestande en fisieke skade aansienlik verminder.

• Slimnetwerktegnologie: Die implementering van slimnetwerktegnologie kan die monitering en bestuur van die elektriese netwerk verbeter, wat voorsiening maak vir die vinniger identifisering en oplossing van kwessies.

Die VF Plus het weereens die Ekurhuleni-metro versoek om die vervanging van die 66kV-oliekabelnetwerk te prioritiseer.

Belegging in moderne infrastruktuur is noodsaaklik om ‘n betroubare en konsekwente kragtoevoer vir die inwoners van Kemptonpark en Ekurhuleni te verseker.

Onmiddellike optrede is nodig om verdere ontwrigting te voorkom en om die gemeenskap se groei en welstand te ondersteun.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.