Die eindeksamen het aangebreek. Bykans alle matrikulante het Engels en Afrikaans óf as huistaal, óf as eerste bykomende taal.
Dit beteken dat, wanneer Engels Maandagoggend en Afrikaans Maandagmiddag met vraestel 3 begin, die matriekeindeksamen vir 2024 in volle swang is.
Wanneer ʼn kind in graad 1 inskryf, is die doel reeds om twaalf jaar later matriek te skryf. Dit werk nie altyd so nie, omdat sommige leerders heeltemal uitval, terwyl ander die skoolstelsel verlaat om vir tegniese- en beroepsopleiding by ʼn kollege in te skryf. Uit ʼn loopbaanoogpunt is dit ook ʼn wen-situasie.
Die groot probleem tans is dat soveel suksesvolle matrikulante ná skool werkloos is. Die rede is dat matriek ʼn mens vir verdere studie voorberei, terwyl die beroepsgerigte vakke wat wel aangebied word, slegs by ʼn klein aantal skole geneem kan word.
Dit is belangrik dat matrikulante, tussen al die vierings deur, besef dat matriek slegs ʼn mylpaal is en nie die bestemming nie.
Dit is by voorbaat bekend dat nie alle kandidate die matriekeksamen gaan slaag nie. Gewoonlik kan die druippunt wel in ʼn slaagpunt omskep word deur slegs enkele vakke te herhaal. Indien dit noodsaaklik is, moet mens eerder hierdie moeite doen as om te berus in die uitslag.
ʼn Matrieksertifikaat maak talle ander deure oop.
Die pylvak lê dus voor en dit is nie nou die tyd om moedeloos te raak of slap te lê nie, hoewel die versoeking weens al die druk soms baie groot is.


