Die VF Plus het die afgelope week ‘n belangrike rol gespeel in die stryd teen dwelmhandel in die Tshwane-metro.
Die Tshwane-metropolisie (TMP) het ‘n belangrike deurbraak in die stryd teen dwelmhandel gemaak toe suksesvol toegeslaan is op ‘n dwelmhandel-sindikaat in Pretoria-Oos.
Die TMP staan onder die beheer van die VF Plus se raadslid, Grandi Theunissen. Hy is ook die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die metroraad.
Die VF Plus het hom sterk verbind tot die bestryding van die dwelmprobleem in die Tshwane-metro en glo dat hierdie oorwinning wat behaal is, die begin is van ‘n suksesvolle veldtog teen dwelmhandelaars.
‘n Totaal van elf Nigeriese burgers is in vandeesweek se operasie in hegtenis geneem weens die besit en handel van dwelms met ‘n straatwaarde van sowat R680 000.
Hulle is gevang terwyl hulle besig was om die algemene straat-dwelm, Nyaope, te verpak in ‘n huis in Garsfontein.
Die TMP se dwelmeenheid het aanvanklik ‘n wenk ontvang dat ‘n dwelmaflewering in Pierre van Ryneveld sou plaasvind.
Die TMP het dwelmkoerier ingewag en in hegtenis geneem waarna die metropolisie die spoor gevolg het na die huis in Garsfontein.
Die VF Plus betuig sy dank aan die TMP wat hierdie operasie suksesvol uitgevoer het en só talle inwoners beskerm het teen die vernietigende uitwerking van dwelms op mense se lewe.
Die VF Plus sal sorg dat die stryd teen dwelmhandel verskerp word om ‘n veilige leefwêreld vir die inwoners van die Tshwane-metro daar te stel.