Die VF Plus in Noordwes het voorstelle vir ʼn drastiese kabinetsingryping by die chaotiese Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Velenkosini Hlabisa, oorhandig.
Die munisipaliteit bedien onder meer die dorpe Lichtenburg en Coligny.
Die minister het onderneem om die voorstelle onverwyld te oorweeg en in verdere gesprek met die VF Plus oor die aangeleentheid te tree.
Jarelange wanbestuur, korrupsie, faksiegevegte en nou ook die stroping van munisipale infrastruktuur, het hierdie munisipaliteit op sy knieë gedwing.
Van doeltreffende dienslewering is daar lank reeds geen sprake van nie. Water- en kragonderbrekings is aan die orde van die dag terwyl die straat-en padinfrastruktuur hand oor hand verval.
Misdadigers stroop en vandaliseer kritieke munisipale infrastruktuur soos kragsubstasies en waterpompe byna daagliks. ʼn Bykans algemene kultuur van wetteloosheid het in die gebied posgevat met geen aanduiding dat die plaaslike polisie daarteen opgewasse is nie.
Verskeie pogings tot ingryping deur Noordwes se provinsiale regering oor jare heen het min tot geen resultate opgelewer nie.
Dit is duidelik dat die konvensionele grondwetlike artikel 139-ingrypings wat dit ten doel het om sukkelende munisipaliteite by te staan, heeltemal gebrekkig is.
Dit is veral gedoem tot mislukking wanneer plaaslike politici en die munisipale bestuur die regrukpogings ondermyn.
Die VF Plus se voorstelle behels ʼn nuwe benadering waar ʼn sterk nasionale inter-ministeriële ingrypingspan met ʼn kabinetsmandaat en uitvoerende magte kan ingryp om die situasie onder beheer te bring om volhoubare dienslewering te herstel.
Só ʼn ingrypingspan moet saamgestel word uit onder meer senior amptenare van Cogta, die polisie, die valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Dit sal verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die wetteloosheid binne en buite die munisipaliteit, ten volle aanspreeklik gehou word.
Daar kan nie toegelaat word dat die inwoners van die groter Ditsobotla-gebied langer uitgelewer word aan korrupte en misdadige elemente wat die gemeenskap en plaaslike ekonomie vernietig nie.
Die ontplooiing van só ʼn ingrypingspan kan as ʼn bloudruk dien vir soortgelyke ingrypings by munisipaliteite landwyd.
Dit sal ook bewys lewer dat die regering van nasionale eenheid (RNE), werklik daartoe verbind is om munisipale dienslewering en plaaslike ekonomieë te herstel.
Sodoende sal werkskepping bevorder word wat ʼn veilige leefomgewing vir alle Suid-Afrikaners sal meebring.
Die VF Plus sal voortgaan om konstruktief by te dra tot die herstel en opbou van die land tot voordeel van alle gemeenskappe.