Inwoners van Krugersdorp in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit het deur die nag en vanoggend wakker geword met branderige oë, asemhalingsprobleme en hoofpyn ná ʼn brand weer by die Luipaardsvlei-stortingsterrein uitgebreek het.
Dit is die vyfde keer sedert die begin van die jaar wat ʼn brand by dié stortingsterrein uitbreek. Die vorige brand is slegs ʼn paar dae gelede geblus.
Die VF Plus is vroegoggend reeds oorval met boodskappe van inwoners wat kla oor die rook.
Van die inwoners moes deur die nag opstaan om handdoeke onder hul deure te plaas om die rook uit hul huise te probeer hou.
Woonbuurte wat die ergste geraak word, is Krugersdorp-Noord, Wentworthpark, Luipaardsvlei, die middedorp, Dan Pienaarville en Rand en Dal.
Met die VF Plus se besoek aan die terrein vanoggend, is gevind dat al die toerusting buite werking is terwyl geen poging aangewend is om die brand te blus nie.
Die party het in ʼn brief aan Mogale City se departement van gesondheid versoek dat ʼn dringende omgewingsimpakstudie gedoen word om die uitwerking te bepaal wat lugbesoedeling vanaf die terrein op inwoners se gesondheid en die omgewing het.
Die munisipaliteit het reeds na aanleiding van vrae vanaf die VF Plus erken dat die gasse wat deur die brand vrygelaat word, ʼn gesondheidsrisiko inhou.
Die VF Plus het ʼn week gelede ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien oor die lugbesoedeling en gevra dat die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ook ingryp om die probleem op te los.
Die inwoners van Krugersdorp verdien om in ʼn omgewing te woon en werk wat nie skadelik is vir hul gesondheid nie.