Groot dele van Vanderbijlpark sal waarskynlik vir ʼn lang ruk sonder krag wees weens ʼn brand Maandagnag by ʼn groot substasie in Curie Boulevard.
Die gebiede wat deur die brand geraak word, is die ou gedeelte van Vanderbijlpark en die kleinhoewe-gebied waar sowat 12 000 gesinne woon.
Die meeste van dié gesinne besit waarskynlik nie kragopwekkers nie en sal bederfbare voedselprodukte moet weggooi. Dit het ʼn gevoelige en onnodige finansiële impak op die inwoners wat reeds sukkel om te oorleef.
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) beskik waarskynlik ook nie oor genoeg fondse om die substasie te herstel nie.
Die brand het feitlik al die elektriese komponente in die substasie vernietig. Die munisipaliteit se elektrisiteitsdepartement het reeds begin om die beskadigde dele te verwyder.
Die grootste kommer is die vervanging van elektriese panele omdat dit nie ʼn rak-item is nie. Die panele moet van die vervaardigers bestel word.
Die munisipaliteit skuld boonop die gespesialiseerde maatskappy wat uitgekontrakteur is om aan die substasie te werk, meer as R4,5 miljoen wat ʼn verdere finansiële uitdaging veroorsaak.
Die VF Plus het reeds die munisipaliteit versoek om die kontrakteur se agterstallige rekening te vereffen om te sorg dat die geraakte gebiede se krag so gou moontlik herstel kan word.