Die skandale en konflik by die Universiteit van Stellenbosch (US) met die rektor en visekanselier prof. Wim de Villiers as sentrale figuur, kan nie onbepaald voortgaan by een van die land se voorste instellings vir hoër onderwys nie.
Die VF Plus het daarom ʼn versoek gerig aan die voorsitter van die parlementêre komitee vir hoër onderwys, mnr. Tebogo Walter Letsie, om ʼn formele parlementêre ondersoek by die universiteit te gelas.
In die jongste voorval het prof. De Villiers volgens oudregter Edwin Cameron ʼn verslag rondom die manskoshuis Wilgenhof gemanipuleer.
Die feit dat sulke prominente mense by die onmin betrokke is, maak die saak selfs meer dringend van aard en noodsaak ʼn ondersoek op parlementêre vlak.
Die voorval van nepotisme waar ʼn tegniese punt gebruik is om prof. De Villiers van aanspreeklikheid kwyt te skeld (dat nepotisme slegs geld by die aanstelling van personeel en nie by studente se keuringsaansoeke nie) is nog vars in die geheue. Die VF Plus verskil steeds van dié beslissing.
Die versoek aan mnr. Letsie lui onder meer:
Dat ondersoek gedoen word na gebeure by die US waar ’n interne aangeleentheid oor transformasie by ’n universiteitskoshuis uitgeloop het op beweerde oneerlikheid op die vlak van die instelling se raad en sy mees prominente ampsdraers.
Die saak spruit uit sogenaamde onthullings oor ongetransformeerde praktyke in die Wilgenhof-manskoshuis. Aangesien ‘n interne ondersoek aan die gang was, was ingryping van buite nie raadsaam nie.
Uiteindelik het die verslag net een aanbeveling gemaak, naamlik dat die koshuis gesluit moet word.
Dit het geblyk dat die oorspronklike verslag alternatiewe moontlikhede bevat, maar dat die visekanselier en voorsitter van die universiteitsraad dit glo eensydig van hul kant gewysig het.
Die kanselier (regter Cameron) het hierdie beweerde ongerymdhede in ‘n verklaring onder eed uitgewys.
Die saak is belangrik aangesien die transformasie van hoër onderwys asook die bestuur daarvan op ‘n wyse wat die proses in geheel kan diskrediteer, op die spel is.
Dit is vir die VF Plus belangrik om die saak op ʼn hoër vlak te laat ondersoek aangesien herhaalde gebeure wat op moontlike oneerlikheid dui, bewys dat dit nie aan die US oorgelaat kan word om self op te tree nie.


