Die VF Plus staan ferm by sy standpunt dat die konsultasieprosesse wat gevolg is met die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels van 2022 onvolledig was en daar nie met die wet se prosessering voortgegaan kan word nie.
Dié wetsontwerp dien tans voor die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid.
Dit het reeds aan die lig gekom dat die departement van gesondheid nie eerlik was oor die voorgeskrewe prosesse wat gevolg is met openbare konsultasies nie en nou probeer die komitee boonop om onenigheid hieroor toe te smeer.
Nadat die departement aan die komitee gesê het die prosesse is volledig gevolg en daar is wel met Nedlac geraadpleeg, het Nedlac dit in die media ontken.
Dit VF Plus se standpunt is daarom dat openbare verhore rakende die wetsontwerp, wat geskeduleer is om plaas te vind in onderskeidelik die Noord-Kaap en Kwazulu-Natal, nie kan voortgaan nie. Die onduidelikheid rondom Nedlac moet eers uitgeklaar word.
Nedlac kan nie gevra word om sy voorlegging aan die komitee te doen voordat hy die geleentheid gekry het om die wetsontwerp deeglik te bestudeer en ʼn verslag daaroor uit te reik nie.
Eers dan kan die wetsontwerp na die parlement gestuur word vir verdere handeling.
Hierdie standpunt van die VF Plus, asook skrywes in dié verband aan die voorsitter van die komitee, dr. Sibongisenbi Dhlomo, is verlede week druk in die komitee bespreek.
Die VF Plus het daarop gewys dat verskeie belangrike organisasies en rolspelers in die bedryf, soos Business Unity South Africa, ook amptelik beswaar by die parlement aangeteken het aangaande die prosesse.
Die komitee is daarop gewys dat indien die openbare verhore nogtans sou voortgaan, dit onvermydelik tot regsaksies teen die regering van nasionale eenheid (RNE) kan lei en dat die komitee daaroor verantwoording sal moet doen.
Pogings van die VF Plus die afgelope week om met die ondersteuning van regeringsvennote en selfs opposisiepartye in die komitee die saak tot stemming te bring, was onsuksesvol. Die ANC-voorsitter (dr. Dhlomo) het dit met die hulp van die EFF summier van die tafel gevee.
Dr. Dhlomo het nogtans ná afloop van Vrydag se vergadering in ʼn mediaverklaring gesê die komitee gaan voort met die openbare verhore en dat daar konsensus oor die aangeleentheid is. Dit is onwaar.
Daar is hoegenaamd nie konsensus nie en die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas om te keer dat dié onverantwoordelike wet wat nie goed deurdink is nie, op ʼn onbehoorlike wyse op die wetboek geplaas word.


