Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emthanjeni-munisipaliteit stort blatant onwettige afval by De Aar

Die VF Plus het gister op drie voorvalle buite De Aar in die Emthanjeni-plaaslike munisipaliteit afgekom waar munisipale werkers blatant met onwettige afvalstorting besig was – klaarblyklik in opdrag van hoër amptenare.

Die voorvalle was kort voor en ná formele werksure.

In een geval het ’n tenkvragmotor wat septiese tenks leegmaak en dit in die rioolplaas moet stort, sy vrag in ’n sloot in die veld gestort. Die werker, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het duidelik gestel dat hy dit in opdrag doen, maar wou ook nie die opdraggewer identifiseer nie.

Kort daarna het ’n soortgelyke vragmotor omgedraai toe hy die VF Plus se voertuig sien. Toe hy gekonfronteer is, het hy verklaar dat die persoon wat dit afgeteken het en hom moes wys waar hy die vrag moet stort, nie daar was nie. Daarom het hy weer vertrek.

In ’n ander voorval in dieselfde omgewing, was die operateur van ’n laaigraaf besig om ’n gat te grawe waarin vervalde chemiese produkte van ’n plaaslike supermark gestort is. Volgens die operateur was dit om te keer dat kinders die produkte op die vullisterrein kry en dit gebruik.

Die VF Plus in die Noord-Kaap se organiseerder, mnr. Wilhelm Reichert, was op die terrein om ’n vorige klag op te volg. Dit het daaroor gegaan dat die dorp se groot rioolpyp ontkoppel is waar dit die rioolplaas moet binnegaan.

Dit beteken dat ongesuiwerde riool in ’n sloot tot in ’n pan afloop.

Terwyl inwoners van De Aar dikwels sonder lopende water moet regkom, het die munisipaliteit ook ’n waarskuwing uitgereik dat inwoners drinkwater moet kook ter wille van veiligheid. ’n Verband tussen die rioolstorting en besmette grondwater lyk waarskynlik.

Dinsdag se besoek was juis om watermonsters van sowel die rioolwater in die afvoersloot as van die drinkwater te neem.

Die VF Plus het die monsters intussen vir die toets van verskillende patogene by ’n onafhanklike geregistreerde laboratorium ingedien.

Die VF Plus het ’n petisie in De Aar oor die verskaffing en wegdoen van water geloods en ook ’n klag by die Groen Skerpioene in Kimberley aanhangig gemaak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.