Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op inwoners van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) om waaksaam te wees en kabeldiefstal dadelik aan die polisie te rapporteer.
Kabeldiefstal vind nou byna daagliks plaas en die munisipaliteit kan nie voorbly om kabels te vervang nie.
Verlede Vrydag is ‘n 200m-kragkabel by die Wonderfontein-hoewes gesteel. Die gebied is sedertdien sonder krag.
Die Carletonville-polisie het die gebied besoek, maar kon nog nie die boosdoeners vastrek nie.
Weens die ANC se wanbestuur beskik Merafong nie oor die nodige finansies om hierdie soort skade vinnig te herstel nie.
Inwoners kan die Carletonville-polisiekantoor by 018-787 9316/17 skakel wanneer verdagtes opgemerk word.