Die VF Plus het ‘n dringende mosie ingedien by die kantoor van Mpumalanga se premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, om te eis dat die regering daadwerklike bystand aan alle inwoners verleen wat deur die buitengewone reënval geraak is.
Die Mpumalanga-regering het ‘n verantwoordelikheid om tydens buitengewone omstandighede op te tree soos met die afgelope weke se swaar reënval en gevolglike lewensverliese.
'n Bejaarde man van Kamdladla en 'n 18-jarige graad 12-leerder van Hoërskool Shongwe in Driekoppies het reeds hul lewe in die oorstroomde Mlumatirivier verloor.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het 'n mediaverklaring uitgereik wat aandui dat die Laeveld aanhoudende reënval kan verwag.
Die diens het vir Woensdag 8 Februarie ’n vlak 5-waarskuwing vir ontwrigtende reën uitgereik. Damme en riviere het reeds hul walle oorstroom.
Talle mense was Donderdagoggend in hul dorpe vasgekeer toe die oornagreën verskeie brûe wat hulle met die dorpe verbind, oorstroom het.
Verskeie paaie in die Nasionale Krugerwildtuin het weggespoel.
Daar moet dringend fondse beskikbaar gestel word om reddingspogings en noodvoorrade te finansier.
Tydelike veilige skuilings vir inwoners moet so gou as moontlik opgerig word sodat inwoners van laagliggende gebiede wat reeds oorstroom het, in veiligheid gebring kan word.
Die nodige gebeurlikheidsplanne moet dringend in werking gestel word.
Die VF Plus doen 'n beroep op inwoners om versigtig te wees, gegewe die reën wat nog vir etlike dae in die provinsie verwag word.