fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-verslag onthul ernstige menseregte vergrype en gruwels in Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel

ʼn Landswye veldtog van die VF Plus waarin die publiek genooi is om te vertel van hul ervarings oor swak behandeling by die staat se gesondheidsorg-instellings, het oorweldigende reaksie gekry.

Dit skets ʼn ontstellende prentjie van menseregte vergrype, totale verval in dienslewering en infrastruktuur, asook onbevoegdheid en ʼn minagtende houding van personeel teenoor die lot en lyding van pasiënte.

Die VF Plus het ʼn verslag van sowat 500 bladsye saamgestel oor honderde klagtes wat vanaf Julie 2022 tot Augustus vanjaar ontvang is waarin die name van 93 openbare gesondheidsinstellings genoem word.

Die verslag is by die menseregtekommissie (MRK) ingedien vir ondersoek. Dit is ook op die VF Plus se webblad by die volgende skakel beskikbaar: https://www.vfplus.org.za/latest-news/the-horrors-of-state-and-provincial-hospitals-in-the-republic-of-south-africa/

Die verslag bevat talle vertellings van onmenslike behandeling en nalatigheid wat tot die sterfte van baie mense gelei het. Grafiese besonderhede en foto’s word in die verslag vervat.

ʼn Enkele hiervan (met foto’s) is van ʼn voorval by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein waar ʼn swanger vrou in kraam se hulpkrete na bewering bloot geïgnoreer is. Die baba is dood gebore waarna dit voor die geskokte ouers in ʼn mediese afvalsak geplaas en in ʼn afvalhouer gegooi is.

ʼn Ander geval in die Joe Morolong Memorial-hospitaal beskryf hoe ʼn persoon se been met slegs ʼn epidurale prosedure geamputeer is. Hy kon hoor en ruik hoe die been gesaag word.

Die gevoel het begin terugkeer na sy been en hy het glo by die dokters gepleit om op te hou, maar daar is bloot voortgegaan met die prosedure. Narkose is eers toegedien nadat die pyn ondraaglik geword het met die knip van senuwees.

Hierdie en vele ander voorbeelde is ʼn ernstige aanklag teen ʼn staat wat geen empatie het met die lyding van siekes nie.

Dit dien terselfdertyd as onomstootlike bewys dat die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is tot mislukking. Die staat is nie eens in staat om die huidige stelsel te bestuur nie.

Die NGV staan geen realistiese kans op sukses nie en die gevolg sal die totale vernietiging van gesondheidsorg vir alle mense in Suid-Afrika wees.

Die VF Plus vra ook alle belanghebbendes om die party se petisie teen die NGV te steun by die skakel: https://www.vfplus.org.za/af/petisies/nee-aan-die-nhi/

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.