Die VF Plus veroordeel die brutale moord op mnr. Christo Morrison (76) en sy vrou Christa (73) op ʼn plaas naby Glen in die Vrystaat, ten sterkste.
Plaasaanvalle en -moorde neem ʼn ander vorm as huisbraak en roof in stedelike gebiede aan – veral met die geweld en onmenslikheid wat daarmee gepaardgaan. Dit word deur die politieke retoriek van die ANC en EFF aangeblaas.
Die VF Plus beskou die wreedheid van hierdie aanval as brutaal en onnodig.
Hierdie aanval is een van vele gevalle wat wys dat die regering nie oor die politieke wil beskik om hierdie soort misdaad te bekamp nie.
Veiligheidsnetwerke moet versterk word sodat aanvalle soos dié voorkom kan word.
Die reaksie van die polisie moet van so ʼn aard wees dat dit as afskrikmiddel vir aanvallers dien.
Die VF Plus spreek sy innige simpatie uit met die familie en geliefdes van die Morrison-egpaar wat dit nie verdien om deur hierdie verskriklike hartseer te gaan nie.