Die VF Plus het met die laaste raadsvergadering van die Ekurhuleni-metroraad versoek dat ʼn volledige oudit gedoen word van alle kraginfrastruktuur in die metro om kragvoorsiening te verbeter.
Alhoewel beurtkrag wat Eskom afdwing talryke probleme skep, speel die gebrekkige onderhoud van kraginfrastruktuur in Ekurhuleni ʼn groot rol in die swak voorsiening van krag.
Die onderhoud van byvoorbeeld die Kemptonpark-depot moet dadelik ondersoek en reggestel word. Dieselfde geld die res van Ekurhuleni se kraginfrastruktuur wat in duie stort.
Net ʼn jaar gelede het die Ekurhuleni-raad ʼn mosie aanvaar dat die energie-departement te stil is met inligting oor kragvoorsiening tydens beurtkrag. Ten spyte van die mosie, het niks verander nie aangesien hierdie inligting nog steeds nie beskikbaar is nie.
Daarby lyk dit of die energie-departement se reaksie op nodige herstelwerk ongebalanseerd is. Dit is nie vreemd om selfs 12 voertuie en 17 tegnici van die energie-departement te sien by ʼn enkele foutiewe krageenheid nie.
Dit lyk ook of oortydwerk belangriker is as om behoorlike herstelwerk te doen.
Daarom het die VF Plus versoek dat ʼn volledige oudit gedoen word van alle kraginfrastruktuur, die misbruik en swak aanwending van die metro se bates en dat ondersoek word hoeveel werknemers reageer op herstelwerk op grond van oortyd eerder as effektiewe dienslewering. Die energie-departement moet volledige inligting aan raadslede en die publiek verskaf oor die aard en tydsraamwerk van beurtkrag en ander kragonderbrekings.
Die VF Plus sal hard werk om die doelwitte te bereik, maar uiteindelik sal Ekurhuleni eers behoorlik funksioneer wanneer die ANC/EFF ontsetel word as regerende partye en vervang word met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.