Die menseregte-organisasie Human Rights Watch (HRW) sê in ʼn verslag dat die Suid-Afrikaanse regering bejaardes in die land se regte minag. Die VF Plus stem daarmee saam. Dit is ‘n akkurate opsomming van die situasie in Suid-Afrika.
ʼn Enkele stawende bewys hiervan is die onvoldoende Sassa-toelaag aan bejaardes wat niks anders nie as ʼn hongerloon is.
Die regering vergeet klaarblyklik dat ouer persone die bouers van die land is wat ná ʼn leeftyd van diensbaarheid grootliks aan hul eie lot oorgelaat word.
Die verslag van HRW beveel spoedige optrede van die regering aan wat nie net uit leë woorde bestaan nie, maar daadwerklike optrede vereis. Ouer mense het inderdaad die reg om met waardigheid te lewe.
Die vraag moet daarom gevra word of die betrokke Wetsontwerp op Ouer Persone weereens net beloftes van die ANC-regering is en of dit werklik die leemtes in die huidige wet doeltreffend kan aanpas om ouer persone ter wille te wees.
In openbare sittings oor die aangeleentheid het ouer persone gevra dat die hoofwet hersien en verbeter word om ʼn hele aantal kwessies te behandel.
Mishandeling is geïdentifiseer as een van die hoofprobleme wat aandag vereis. So ook meer geredelike toegang tot afdelings van die staatsdienste en -departemente wat ʼn groot struikelblok vir bejaardes is.
Geriewe om bejaardesorg te verbeter en die dienservaring met die polisie en die departement van gesondheid was nog kwelpunte wat geopper is.
Die wetsontwerp behels onder meer die registrasie en monitering van versorgingsgeriewe. Bejaardes wat aan sekere vorms van mishandeling blootgestel word, moet ook die reg hê om verplaas te word na plekke waar daar beter na hulle omgesien kan word.
Die VF Plus wonder of hierdie waarlik sal help om die skokkende probleem op te los van ʼn gemeenskap wat sy bejaardes mishandel, veral in landelike en minder gegoede gemeenskappe.
Om mense bloot te skuif gaan nie die ingesteldheid van die versorgers verander nie. Daar is geen waarborg dat dit elders nie dalk erger sal gaan nie, soos Life Esidimeni baie goed geïllustreer het.
Die beskikbaarheid van geriewe is ʼn ewe groot probleem. Die VF Plus het ernstige bedenkinge oor die sinvolle haalbaarheid van die voorstelle in die wetsontwerp.
Onder die ANC-regering het die Suid-Afrikaanse gemeenskap se nate dermate begin uitrafel dat die lappieswerk van die totale bevolking begin lostorring.
Die lot van vroue en kinders laat veel te wense oor, bejaardes kry swaar en miljoene is sonder werk en sonder kos. Pligsgetroue werkers en belastingbetalers dra ʼn geweldige las van misdaad en oorbelasting.
Terwyl die ANC regeer gaan geen wet mense se lot verbeter nie. Dit kan net geskied onder ʼn regering wat werklik vir sy mense omgee, en veral vir die kwesbares soos bejaardes.
Op 29 Mei hierdie maand doen die geleentheid hom voor vir die land se ouer persone op te staan deur by die stembus van die ANC ontslae te raak. Dit kan nie langer uitgestel word nie.