Die VF Plus het ingegryp om seker te maak dat water aan die inwoners van wyk 7 in die Lekwa-plaaslike munisipaliteit verskaf word tydens die waterkrisis wat dié munisipaliteit tans beleef.
Dit is veral die inwoners van wyk 7 in hierdie munisipaliteit (Morgenzon, Standerton) wat van JoJo-watertenks afhanklik is aangesien daar geen lopende water is nie. Een van die hooftenks in hierdie wyk is ongeveer sewe maande gelede beskadig. Die munisipaliteit het dit verwyder maar nie vervang nie.
Hierdie tenk was die enigste bron van water vir die gemeenskap en hulle het die VF Plus verlede week genader om hulp.
Die party het die munisipale bestuurder, mnr. Malosi Lamola, versoek om te help en hy het toestemming gegee dat ʼn nuwe tenk so gou moontlik opgerig word. ʼn Watervragmotor is reeds na die wyk gestuur om die waternood tydelik te verlig.
Die VF Plus sal toesien dat die waterhulp voortduur tot die nuwe tenk opgerig is.
Waterverskaffingsprobleme weens ʼn gebrek aan instandhouding en vervanging van vervalle waterinfrastruktuur, teister die munisipaliteit lank reeds.
Die VF Plus sal nie skroom om sy invloed in die munisipale raad te gebruik om die lewensgehalte van inwoners te verbeter nie.