Die feit dat die polisie nie vandag soos gebruiklik die kwartaallikse misdaadstatistiek bekend maak nie, wys dat die stygende misdaadvlakke vir die regering ʼn verleentheid is wat hy so kort voor die verkiesing wil wegsteek.
Die vorige statistiek wat in Februarie vanjaar uitgereik is, het getoon dat veral geweldsmisdaad aanhou styg en dat Suid-Afrika vinnig besig is om die misdadigste land ter wêreld te word.
Dit is daarom onaanvaarbaar dat die publiek, wat uitgelewer is aan misdadigers en geweldsmisdaad, nie ingelig word oor die jongste stand van sake nie.
Die regering maak dit hiermee duidelik dat hy die belange van die ANC bo die veiligheid en belange van die publiek stel. Dit geld in besonder vroue en kinders aangesien die onlangse statistiek getoon het die toename in geweld teen hierdie groepe is besig om skerp te styg.
Die statistiek sal veral wys dat die regering en pres. Cyril Ramaphosa se talle beloftes en planne jaar na jaar om daadwerklik iets te doen teen misdaad, net leë beloftes was.
Misdaad raak alle Suid-Afrikaners, ook die ondersteuners van die ANC en die VF Plus sal daarop aandring dat dit wel voor die verkiesing op 29 Mei bekend gemaak word.
Ná die verkiesing sal die VF Plus as deel van ʼn koalisieregering seker maak die stryd teen misdaad word weer ʼn prioriteit vir die regering en die polisie.