Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, se krisisbestuur om welsynsorganisasies wat nog nie hul diensooreenkomste ontvang het nie te paai, is ʼn sprekende voorbeeld van hul onvermoë om Gauteng en sy kritieke departement te bestuur.
Lesufi en die LUR het ʼn jaar tyd gehad om doeltreffende beplanning in werking te stel om te sorg dat nie-regeringsorganisasies deeglik bewus is van reëls en regulasies wat in die 2024/25-finansiële jaar in werking gestel word.
In stede daarvan het hulle die begroting gesnoei en Dinsdag weer vergroot van R1.8 miljard tot R2,4 miljard.
Hy belowe vanaf die begin van die jaar om dienskontrakte af te handel, maar welsynsorganisasies oorleef steeds van die hand na die mond. Baie moes reeds hul deure sluit en personeel aflê.
Lesufi se nuwe instelling van die 70/30-klousule het verwarring en teenkanting veroorsaak waar vereis word dat organisasies 70% van die geld vir die finansiering van opleidingsprogramme gebruik en 30% van die geld vir administratiewe kostes en salarisse.
Die premier en die LUR verstaan nie die werksaamhede van dié omgewing nie. In baie gevalle het ʼn verswakte-sorgafdeling meer personeel nodig om pasiënte te versorg. Babas en kleuters het ook intensiewe sorg nodig.
Die VF Plus neem kennis van sy belofte om die klousule te verwyder en sal hom by sy belofte hou.
Die maatreëls wat die departement van maatskaplike ontwikkeling gereeld moet verander omdat sy stelsels onprakties is, kan nie langer geduld word nie. ʼn Deursigtige keuringsproses moet gevolg word met lede wat die omgewing verstaan.
Die VF Plus het reeds ʼn brief aan die premier geskryf en hom versoek om die probleme wat ondervind word nie te herhaal nie en kenners te raadpleeg om ʼn weldeurdagte dokument saam te stel wat toeganklik is vir welsynorganisasies.
Die ANC het egter al oor en oor bewys dat hy nie te vertroue is nie en nie omgee vir die weerloses in die samelewing nie.
Kiesers moet op 29 Mei van die ANC in Gauteng ontslae raak en vervang met ʼn koalisieregering waarvan die VF Plus deel is en wat sal optree in die beste belang van die mees weerloses in die provinsie.


