fbpx
Vryheidsfront Plus

Uitnemendheid raak ʼn verleentheid vir ANC

In ʼn see van ANC-geskepte middelmatigheid raak dit klaarblyklik ʼn verleentheid vir die regerende party wanneer gewone Suid-Afrikaners presteer – veral wanneer wit persone of sportmanne tot die prestasie bydra.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is luidens ʼn mediaberig vandag (Rapport; SKOK-VERSLAG: Bok-span is te wit, kla Saru) ongelukkig omdat daar nie genoeg gedoen word om transformasie in die span te bewerkstellig nie. Saru is natuurlik onder druk van die regering om sekere transformasieteikens te behaal ten einde kritiek van die ANC te vermy.

Nêrens sien die VF Plus in die jongste verlede egter enige kritiek van die regering op die land se nasionale sokkerspan Bafana Bafana wat tans die 59ste plek beklee op die jongste ranglys van wêreldsokker se beheerliggaam Fifa nie. Of oor die samestelling van dié span nie.

In rugbytaal staan die sokkerspan se prestasie gelyk aan ʼn land soos Luxemburg wat die 59ste plek op Wêreldrugby se internasionale rugby-ranglys beklee.

Waar die ANC-regering wel uitstyg, is dit om al die verkeerde redes. Wat dinge soos misdaad, werkloosheid, dienslewering, gesondheidsorg en korrupsie aanbetref, is die land vinnig besig om die voorste plekke ter wêreld in te neem.

Volgens die Global Organised Crime Index het misdadigheid in Suid-Afrika die afgelope twee jaar skerp toegeneem en die land was in 2023 sewende uit 193 lande ter wêreld.

Suid-Afrika is ook derde in Afrika wat mafia-styl misdadige netwerke en georganiseerde misdaadsindikate aanbetref. Omvattende korrupsie weens die regering se beleid van patronaatskap speel ʼn groot rol hierin.

Dit is daarom met ongeloof dat ʼn mens verneem dat Saru net kritiek het en kleur ingesleep word op ʼn gebied waar die land se sportmanne werklik tot heel bo uitgestyg het.

Suid-Afrika se rugbyspan beklee tans die boonste plek op die internasionale rugbyranglys én hy is wêreldkampioen. Mense van alle kleure was waarlik trots op die span bestaande uit alle kleure.

Alle Suid-Afrikaners aanvaar waarskynlik ook dat billike transformasiepogings ʼn gegewe is.

Wat nou gebeur, is egter ‘n sprekende voorbeeld van hoe gedwonge kosmetiese transformasie een van die heel mooiste suksesstories in die land se onlangse geskiedenis wil vertrap ter wille van die ANC se gefaalde politieke ideologie.

Die Springbokke is die toonbeeld van sukses op meriete, ongeag ras. Só ʼn wenresep moet gebou en volgehou word deur behoorlike ontwikkeling vanaf skoolvlak. Dit kan op alle ander gebiede met ewe veel sukses nagejaag word.

Onder die ANC-regering waar geld vir sportgeriewe, veral in minder gegoede gebiede, eerder gesteel word as om jong mense op te hef, gebeur dit bloot nie.

Alles waaraan die ANC raak misluk en nie eers die Springbokspan is veilig nie. Rassie Erasmus en sy span het die afgelope jare meer gedoen vir transformasie en nasiebou in Suid-Afrika as wat die ANC in dertig jaar kon regkry.

Die span se sukses is gebou op harde werk, toewyding, respek, integriteit en meriete en niemand twyfel hoegenaamd daarin dat die beste spelers in Suid-Afrika vir die span sal uitdraf nie, ongeag hul velkleur.

Daarenteen het die ANC oor drie dekades van gebreekte beloftes, rassistiese en polariserende wetgewing, bedrog, korrupsie, swak regering en nog swakker vriende die land muishondstatus laat verwerf.

Hierdie bewys ook dat die tyd vir rasgegronde wetgewing en transformasieteikens verby is. Dit is tyd vir ‘n nuwe regering wat besef dat net uitnemendheid die land weer kan opbou en herstel.

Dit geld gelyke geleenthede vir almal op elke gebied, nie net op die sportveld nie. Die belangrikste moet uiteindelik wees dat niemand kan sê hy of sy het nie dieselfde geleentheid gehad as al die ander om die boonste vlak te bereik nie.

Die ANC gebruik kleur om die land se mense te verdeel. Die VF Plus glo dat dit eerder, soos met die seëvierende Springbokspan, gebruik moet word om die beste in die wêreld te word.

Dit kan gedoen word, maar net sonder die ANC. Rassie en sy span het dit bewys.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.