Die minister van justisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet sê waarom daar so gesloer word met ʼn beslissing oor ʼn klag van haatspraak wat die VF Plus reeds in Julie verlede jaar teen die EFF-leier Julius Malema ingedien het.
Uit ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag wat ek hieroor ingedien het by die minister van polisie, Bheki Cele, blyk dit dat die polisie se ondersoek verlede jaar reeds afgehandel is.
Die polisie het onder meer ʼn waarskuwingsverklaring van Malema geneem en het die dossier volgens min. Cele reeds op 13 Desember 2023 aan die NVG oorhandig.
Die VF Plus het ook videomateriaal met die klag van aanhitsing tot geweld in terme van die Wet op die Voorkoming van Openbare Geweld ingedien wat wys hoe Malema verlede jaar met die EFF se tiende verjaardagvieringe in die FNB-stadion in Soweto die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer” sing en sê “Shoot to kill”.
Die minister maak geen melding daarvan dat die dossier terugverwys is na die polisie vir verdere ondersoek nie en dit is daarom onaanvaarbaar dat die NVG reeds vir langer as vyf maande op sy hande sit met die saak.
Die VF Plus hoop nie dat die komende verkiesing enige rol in hierdie besluitloosheid speel nie.
Die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Haatsmisdade en Haatspraak het boonop onlangs van krag geword. Dit stel uiters streng optrede teen rassisme en haatspraak daar en behoort in hierdie geval gebruik word om te wys dit is op alle Suid-Afrikaners van toepassing.
Mnr. Malema se aanhitsing van geweld teen boere ongeag hul ras en wit mense in die algemeen is goed gedokumenteer en die VF Plus en ander het oor die jare al verskeie klagte teen hom ingedien.
Die menseregtekommissie (MRK) het al in 2000 ná ʼn klag van die VF Plus bevind dat die liedjie “Kill the Boer ” haatspraak is, maar die EFF-leier se uitsprake tot nou toe het straffeloos gebly.
Sy optrede in die FNB-stadion met die EFF se tiende verjaarsdag het net weer sy minagting vir die gereg en die MRK onderstreep.
By die VF Plus bestaan daar geen twyfel nie dat opruiende uitsprake en liede mense aanhits tot geweld en moord. Daar kan geen twyfel wees nie dat die “boer” waarna in die lied verwys word, op wittes gemik is nie.
ʼn Polisieverslag van 2003 het al bevind dat uitsprake van politici mense aanhits tot geweld en dat dit een van die oorsake vir plaasaanvalle en -moorde is.
Die ANC-regering het in dertig jaar met sy rassebeleid groot verdeling in die Suid-Afrikaanse gemeenskap geskep en amptelike instellings het dit aangehelp deur hul swye en gebrekkige optrede.
Dit kan nie so voortgaan nie. Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat aanhitsing tot geweld nie beskerm word deur die reg op vryheid van uitdrukking nie.
Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika ʼn nuwe bedeling binnegaan waar daar wedersydse respek onder alle mense bestaan en waar daar nie selektiewe optrede teen rasse-opstokers is nie.