Die VF Plus in die Tshwane-metroraad ondersteun die burgemeester, Solly Msimanga, se besluit om bewerings van ongerymdhede in die Glad Africa-kontrak waarby die stadsbestuurder, dr. Moeketsi Mosola, betrokke is te laat ondersoek. Die VF Plus sal daarom ook teen die mosie van wantroue stem wat die ANC en EFF in die burgemeester by Donderdag se raadsvergadering stel.
Die VF Plus versoek Msimanga om nooit terug te deins nie, maar voort te gaan om alle bewerings van korrupsie in die Tshwane-metro te ondersoek.
Dit is tot die metroraad se voordeel en in belang van die inwoners dat die ANC nie weer aan bewind van die metro kom nie. Die veelparty-regering, waarvan die VF Plus deel is, is verbind tot gehalte dienslewering en die uitroei van korrupsie, wanbesteding en onbevoegdheid.
Die ANC se nalatenskap na hy sowat 20 jaar die Tshwane-metroraad regeer het, is een van ongerymdhede en swak dienslewering. Die veelparty-regering maak reeds vordering om hierdie nalatenskap om te keer en in belang van alle inwoners dienslewering en die finansiële bestuur van die munisipaliteit te verbeter.
Kontaknommer: 083 448 9473