Die VF Plus se ekonomiese beleidsraamwerk vereis, net soos die mening wat die IMF nou hieroor uitgespreek het aangaande die ANC-regering, dat staatskuld ‘n skuldplafon moet hê.
Die skuldplafon moet bepaal word deur die kapitaalbates van die staat en vereis dat skuld nooit die kapitaalbates van die staat mag oorskry nie.
"Dit sal verhinder dat ontsparing plaasvind (die aangaan van lenings sonder sekuriteit), aangesien alle skuld gerugsteun is deur bates wat kan instaan as sekuriteit indien die skuld nie betaal kan word nie. Dit beteken ook dat die belastingbetaler nie die heeltyd moet instaan vir staatskuld nie," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
"Gegewe die land se swak ekonomiese posisie en die oordrewe projeksies van die regering rakende toekomstige ekonomiese groei waarop fiskale skuld gegrond word, is dit duidelik dat die regering te veel skuld aangaan om sy finansiële verantwoordelikhede na te kom.
"‘n Skuldplafon wat net gewysig kan word deur die parlement sal meer oorsig oor die fiskale beleid van die uitvoerende gesag aan die wetgewende gesag gee. Dit sal ‘n nuwe openbare fokus plaas op roekelose besteding deur die regering, asook hulle ooroptimistiese projeksies van ekonomiese groei.
"Daar sal gesonde debat in die parlement kan plaasvind rakende die kwessies en die media en burgery sal ook meer druk op die regering kan uitvoer om verantwoordelik op te tree.
"Die VF Plus het verlede jaar net voor die aansuiweringsbegroting ‘n fiskale beleid bekend gestel ten einde die skuldprobleem van die regering aan te spreek. Die beleid vereis dat staatskuld ook beheer word deur middel van ‘n Fiskalekommissie (FK) wat soos die Rewerwebank funksioneer.
"Waar die Reserwebank toesig hou oor monetêre beleid, so hou die FK toesig oor die fiskale beleid deur middel van die BTW. Indien daar ‘n tekort ontstaan op die begroting, moet BTW styg totdat daar weer ‘n balans is tussen inkomste en besteding. Sodra die balans herstel is en die begroting is onder beheer, kan BTW weer verlaag word.
"Dit is tyd dat die ANC-regering begin ag slaan op die waarskuwings en voorstelle van die IMF ten einde die ekonomie en die land van die rand van die fiskale afgrond terug te ruk," sê Alberts.
Hier volg ‘n uittreksel uit die VF Plus se fiskale beleid:
‘n Fiskale Kommissie (FK) moet geskep word, soortgelyk aan instellings in onder meer Amerika, Nederland, België, Oostenryk, Denemarke, Kanada en Japan. Die taak van die FK is om te sorg dat ‘n onafhanklike instelling oorsig oor fiskale beleid uitoefen net soos die Reserwebank tans op ‘n onafhanklike wyse oorsig uitoefen oor monetêre beleid. Die minister van finansies sal geen bevoegdheid hê om in te meng in die werksaamhede en besluite van die FK nie. Die FK sal aangestel word deur die parlement en sal bestaan uit tien kundige persone waarvan vyf deur die regering aangestel word en vyf deur die opposisie.
Enige ekstra belasting gevorder sal in ‘n soewereine-fonds geplaas word as fiskale kussing vir moeilike tye.
Die FK se funksies sal as volg wees:
(1) Die FK sal beheer hê oor die vasstel van die BTW-koers en mag dit wysig na gelang van fiskale behoefte ten einde te sorg dat die regering se billike en redelike belastingteikens gehaal word.
(2) Die BTW-koers mag twee keer in ‘n finansiële jaar aangepas word; tydens die begroting en tydens die aansuiwerings-begroting.
(3) Die BTW-koers se opwaartse aanpassing sal beperk word in lyn met die volgende:
(a) Dat die regering en staatsdiens klein moet bly en salarisaanpassings vir staatsdiensamptenare nie inflasie oorskry nie.
(b) Dat staatsuitgawes vir die volgende 5 jaar meestal befonds word deur die verkoop van staatsondernemings en staatsbates, soos grond.
(c) Dat die ekonomie weer op dreef kom deur die vryemark te beskerm wat ander belastinginkomste sal verhoog weens die verbreding van die belastingbasis.
i) Die FK sal navorsing doen en kort-, medium-, en langtermyn fiskale- en begrotingsprojeksies skep.
ii) Navorsing doen oor die koste- en ander negatiewe implikasies van bestaande en beplande beleid.
iii) Post-mortems hou oor BTW-besluite en begrotings in die verlede ten einde beter te beplan vir die toekoms.