Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het Donderdag tydens 'n sitting van die Gautengse wetgewer geweier om 'n vraag van die VF Plus te neem of te antwoord.
Lesufi het tydens die begrotingsdebat van die departement van onderwys geweier om aan te dui of nuwe skole in die provinsie operasioneel is.
Die LUR het gespog dat 'n totaal van 43 nuwe skole in Gauteng sedert die 2014/15 finansiële jaar gebou is .
Die VF Plus se LPW, Philip van Staden, het in terme van die staande reëls van die wetgewer die speaker gevra of die LUR bereid is om 'n vraag van die VF Plus te antwoord. Die VF Plus wou by die LUR verneem of al die 43 nuwe skole operasioneel is en indien nie, waarom nie en hoeveel skole wel operasioneel is," sê Van Staden.
Hy wou ook by Lesufi weet hoeveel Afrikaanse skole daar nog oor is in die provinsie en hoeveel van hierdie nuwe skole Afrikaans is.
Die LUR het geantwoord dat hy nie kan verstaan waarom "sy stem so geliefd is nie" en die versoek geweier.
Van Staden sê Lesufi is nie bereid om ongemaklike vrae te beantwoord nie en dat hy met hierdie optrede iets wil wegsteek.
"Die VF Plus is van mening dat indien Lesufi niks gehad het om weg te steek nie hy sy man sou gestaan het en die vrae beantwoord het. Die VF Plus beskou Lesufi se optrede as laakbaar en onbeskof," sê van Staden.