Die VF Plus gaan die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer aankla.
Lesufi het Donderdag tydens die aankondiging van die registrasiestelsel vir graag 1 en graad 8 leerlinge in Gauteng, verskeie wenkbroue laat lig met sy aankondiging dat taalbeleid van skole in die provinsie geen rol in die aansoekproses sal speel nie.
Volgens Lesufi moet ouers aansoek doen by die naaste skool aan hul huis of werk en dat dit nie saak maak wat die taalbeleid van die skool is nie.
"Lesufi dek weer die tafel vir openbare geweld by skole en hy besig om moedertaalonderrig uit skole te forseer," sê Philip van Staden, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer.
Van Staden sê Lesufi se aankondiging sal tot algehele chaos en wanorde lei en kinders gaan in die middel van openbare geweld staan.
"Lesufi is besig om onskuldige kinders te gebruik as ‘n politieke speelbal en hy moet gestop word. Deur hierdie aksie pleeg hy nie net ‘n gruwelike daad teen Afrikaans nie, maar alle amptelike landstale van Suid-Afrika," sê Van Staden.
Lesufi sal aangekla word in terme van Artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2 artikel 5.
Ingevolge die artikel word elke Premier of LUR ingesweer as lid van ‘n wetgewer met dien verstande dat lede van die Uitvoerende Raad van ‘n provinsie, voordat hulle begin om hul funksies te verrig, ooreenkomstig Bylae 2 ‘n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet moet aflê.
Van Staden sê Lesufi het reeds die artikel van die grondwet oortree deur Artikel 29 van die Grondwet te minag.
"Laasgenoemde artikel stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Lesufi het ook die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree. Die VF Plus wil dit duidelik stel dat LUR Lesufi se dae getel is en hy behoorlik vasgevat moet word," sê Van Staden.