Die VF Plus het hom vroeër vandeesweek sterk uitgespreek het teen die beoogde notering van Iqbal Survé se maatskappy Sagaramatha Technologies en die besluit van die JSE om die notering vandag te keer, is daarom welkome nuus.
"Dit is duidelik dat die JSE die VF Plus se agterdog jeens Survé se maatskappy deel aangesien die JSE aanvoer die rede vir die weiering om te noteer is om “aandeelhouers te beskerm”. Sagaramatha het volgens die JSE sekere noteringsvereistes nie nagekom nie," se adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
"Dit beteken egter nie dat die notering nie wel in ‘n later stadium kan plaasvind nie, en die VF Plus is steeds bekommerd oor die moontlikheid dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) geld van die staatsdiens-pensioenfonds (SPF) in die maatskappy kan belê om dit moontlik te maak.
"Vrae wat die VF Plus Dinsdag vandeesweek aan die OBK gerig het oor ‘n moontlike belegging, is steeds nie beantwoord nie, en die party het die OBK vandag weer versoek om duidelikheid hieroor te gee.
"Gegewe die bedenklike aard van vorige beleggings wat die OBK gemaak het met groot risiko vir staatsamptenare se pensioenfonds, is die VF Plus met reg bekommerd oor die moontlikheid van ‘n belegging in ‘n maatskappy oor wie vele kwelvrae hang en wat geen vertroue inboesem nie.
"Die VF Plus sal voortgaan om die staatsdiens-pensioenarisse se belange te beskerm en sal alles in sy vermoë doen om só ‘n belegging te ontbloot en stop te sit," sê Alberts.