Die VF Plus verwerp die Onteieningswetsontwerp wat die onteiening van onder meer grond sonder enige vergoeding moontlik sal maak en sal by elke geleentheid sy stem daarteen uitbring.
Al dié wetsontwerp se klousules is vanoggend met ’n ANC-meerderheid in die parlementêre portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur goedgekeur.
Hierdie is ‘n poging van die ANC om die Onteieningswetsontwerp te gebruik vir onteiening sonder vergoeding.
Dit nadat hy verlede jaar in die nasionale vergadering (NV) nie die vereiste tweederde-meerderheid steun kon kry om Artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.
Die VF Plus het lank reeds gesê hy sal dié wysigings beveg en die party is selfs bereid om Grondwethof toe te gaan om die wet te stuit.
Die VF Plus sal gesprek voer met alle partye wat teen die wet gekant is aangesien daar ‘n tegniese bepaling is ingevolge waarvan die wetsontwerp eers na die Grondwethof verwys moet word indien ‘n derde van die parlementslede dit versoek.
Die Grondwethof moet dan bepaal of die beoogde wet grondwetlik is voordat die president dit kan afteken.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om te verhinder dat die wet deurgevoer word. Onteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik en kan nie toegelaat word in Suid-Afrika nie.
Grondeienaarskap en die beskerming daarvan is juis een van die pilare van ‘n demokrasie en veral ‘n grondwetlike demokrasie.