Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Bela-wetsontwerp moet skole se kultuur verander – Motshekga erken wat VF Plus van begin af sê

Met bespreking van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ("Bela Bill") het die minister, Angie Motshekga, tot dusver beweer dat dit slegs daarop mik om Suid-Afrikaanse wetgewing met internasionale norme in ooreenstemming te bring.

Vandag het sy in 'n mondelingse vraag-en-antwoordsessie gesê dat die wet nodig is sodat die staat kan ingryp om skole se taalbeleid en onderwyskultuur te verander.

Die VF Plus wou met 'n opvolgvraag weet of hierdie antwoord van haar nie die skikking van 1994 verbreek nie.

Volgens dié party was dit grondliggend tot daardie skikking dat skoolgemeenskappe hul skole kon behou en deur middel van skoolbeheerliggame bestuur.

Nie alle skoolgemeenskappe is geografies omlyn nie, maar word tog sterk deur daardie gemeenskap ondersteun.

Minister Motshekga se reaksie was dat die betrokke wet juis nodig is om skole te dwing om hul aard te verander.

Volgens haar het talle bevolkingsverskuiwings sedert 1994 plaasgevind en die staat kan nie toelaat dat 'n Afrikaanse skool kinders in sy omgewing uitsluit, net omdat dit dekades gelede in 'n Afrikaanse woongebied geleë was nie.

Sy het uitdruklik gesê dat die staat die mag moet hê om in te meng.

Die werklikheid is dat meer as helfte van alle Afrikaanse skole sedert 1994 dubbelmedium of Engels enkelmedium geword het.

Die indruk dat daar halfleë Afrikaanse skole is wat weier om geriewe beskikbaar te stel aan kinders in die direkte omgewing, is vals.

Wat wel gesê kan word, is dat Afrikaanse skoolgemeenskappe buitengewone offers bring om goeie onderwys in hulle skole te handhaaf. Dit sluit in dat skole vol moet wees.

Die VF Plus het tot dusver die wetsontwerp op presies hierdie gronde teengestaan, maar ook omdat dit verouderd is, nog voor dit aanvaar is.

Die wetsontwerp is in 2016 bekendgestel, maar intussen het die grendelstaat die aansig van onderwys vir altyd verander.

Die grense tussen tradisionele skole en aanlynonderrig vervaag, sodat onderwys op maniere geskied wat die wetsontwerp nie in ag neem nie.

Die openbare deelnameproses wat die portefeuljekomitee vir basiese onderwys in werking gestel het, moet nog na distrikte gaan om mondelingse insette te kry. Verder moet dit deur provinsiale wetgewers aanvaar word.

Die VF Plus sal hierdie wetsontwerp in elke moontlike wetgewende vergadering en op elke moontlike openbare platform teenstaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.