Die VF Plus verwelkom die daling in brandstofpryse wat Woensdag in werking tree.
Terwyl dit die druk op verbruikers sal verlig, kan die regering 'n deurslaggewende rol speel om pryse verder te verlaag.
Die departement van minerale hulpbronne en energie is besig om die samestelling van brandstofpryse in geheel te hersien. Verskeie pryskomponente is op veronderstellings gegrond, wat in werklikheid minder kan kos. Tydsduur van seevervoer en staantyd in hawens is voorbeelde daarvan.
Die VF Plus is van mening dat hierdie tariewe nie vasgestel moet word nie, maar geskat moet word.
Oorverhaling kan tot die bestaande stabiliseringfonds (slate levy) toegevoeg word sodat pryspieke van korte duur geabsorbeer kan word.
Die VF Plus het hom tevore reeds oor die padongeluksfonds (Pof) se heffing uitgespreek, wat eerder met 'n verpligte derdepartyversekering vervang kan word.
Die belangrikste bydrae wat die regering kan lewer, is steeds om vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel.
Dit kan die waarde van die Rand verbeter, wat een van die grootste bydraers tot 'n hoë brandstofprys is.
Die brandstofheffing is steeds hoogs omstrede. Die werklikheid is dat die Suid-Afrikaanse staatskas onder groot druk is. Om hierdie belasting af te skaf, sal 'n ander belasting noodsaak; iets wat deeglike beplanning sal verg.
Terwyl alternatiewe energiebronne oor die langer termyn verligting kan bring, lyk dit of dit voorlopig van verbruikers self afhang om brandstofkoste te spaar deur minder te ry.
In 2024 is daar ook die moontlikheid om 'n nuwe, beter regering te verkies.