Die onbevoegdheid van amptenare van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit is besig om die gemeenskap die geleentheid te ontsê om deel te neem aan belangrike openbare deelnameprosesse.
Dit is belangrik dat gemeenskappe aan hierdie prosesse deelneem sodat daar na hul belange omgesien kan word.
‘n Onlangse vergadering wat die menseregtekommissie (MRK) belê het om belangrike grondwetlike kwessies te bespreek, is in die wiele gery deur die optrede van die waarnemende munisipale bestuurder, me. Busisiwe Mgaguli.
Die MRK sou verlede week met al die belanghebbende partye in Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad) vergader het om onder meer die mandaat van die MRK, die klagteprosedure en die Handves van Menseregte te verduidelik.
Mgaguli het die kennisgewing van die vergadering eers op 20 Augustus op die raadslede se Whatsapp-groep geplaas. Dit moes twee weke voor die vergadering reeds uitgestuur gewees het.
Die MRK het op navraag aan die VF Plus bevestig dat die kennisgewing twee weke tevore aan Mgaguli gestuur is.
Dit blyk dat sy nagelaat het om die belanghebbendes daaroor in te lig. Die plek waar die vergadering sou plaasvind is aanvanklik ook nie aangedui nie.
Die oggend voor die vergadering is die vergaderplek verander. Sekere organisasies en lede van die gemeenskap het weereens nie hiervan kennis gekry nie.
Mgaguli het daarna ook versuim om self die vergadering by te woon. Die instansies teenwoordig was afgevaardigdes van die departement van samewerkende regering en tradisionel sake (Cogta) en die departement van water en sanitasie. 'n Senior bestuurder, me. Thembi Pule, het die munisipaliteit verteenwoordig.
Die VF Plus het die geleentheid gebruik om te vra oor die vervanging van ‘n rioolpyp en die herstel van die watersuiweringsaanleg. Dit sloer al lank en skep ‘n gesondheidsgevaar.
‘n Woordvoerder van die departement het aangedui dat herstelwerk reeds begin het.
Die MRK-verteenwoordiger, mnr. Buyisile July, was ontevrede omdat daar volgens hom nie na wense op die vrae geantwoord is nie en dat daar nie volledige voorleggings ingedien is nie. Hy het ook gesê dat openbare verhore in Phokwane, Sol Plaatje en Magareng (Warrenton) sal plaasvind.
Die VF Plus veroordeel die versuim van die waarnemende munisipale bestuurder om die publiek behoorlik in kennis te stel, ten sterkste. Dit is blatante ondermyning van die grondwetlik-demokratiese reg van die gemeenskap tot ‘n openbare deelnameproses.
Die VF Plus sal aanhou veg vir die regte van gemeenskappe en minderheidsgroepe.