Die burgemeester van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit, Sibongile Makhushe, het R27,3 miljoen beskikbaar gestel vir die opgradering van die Barberton-watersuiweringsaanleg.
Dit volg ná maande van deurlopende druk en ‘n strafregtelike klag wat die VF Plus ingedien het.
Die Suid-Kaaprivier, naby Barberton in die Mbombela-munisipaliteit (Hazyview, Witrivier, Nelspruit, Skukuza en Barberton), is weens die oorloop van riool vanuit die huidige wanbestuurde en vervalle watersuiweringsaanleg uiters besoedeld gelaat.
Die ekologiese ramp wat die oorloop tot gevolg het, sluit in die dood van duisende visse, ‘n skerp afname in omliggende plase se oeste en ernstige gesondheidsprobleme vir inwoners van die gebied.
Op 4 Julie, ná maande van onbeantwoorde vrae aan munisipale amptenare, het die VF Plus ‘n strafregtelike klag teen die munisipaliteit ingedien. Die klag was vir die oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Rampbestuurswet.
Makhushe het tydens ‘n raadsvergadering op 31 Augustus gesê dat die R27,3 miljoen beskikbaar gestel sal word vir die opgradering van die watersuiweringsaanleg.
Die VF Plus se vraag oor of dié begroting die rehabilitasie van skade stroomaf sou insluit, is nie beantwoord nie, maar die VF Plus sal toesien dat rehabilitasiewerk binne die begroting gedoen word.
Die VF Plus takel tans soortgelyke kwessies in die munisipaliteit en sal nie rus totdat al die natuurlike waterbronne reg bestuur word nie.