Die VF Plus het ’n inisiatief van stapel gestuur om ervare, afgetrede en dienende kundige tegnici en ingenieurs bymekaar te bring om hul kundigheid aan te bied vir ’n tegniese adviespaneel om die kragkrisis in die Tshwane-metro die hoof te bied.
Hierdie paneel sal die nuwe regering wat ná 4 November die bewind in Tshwane oorneem, bystaan om ’n bekostigbare instandhoudings- en ʼn omkeerplan in werking te stel.
Die paneel se opdrag sal wees om:
• ’n Onafhanklike, deursigtige oudit van die hoëspanningsnetwerk te doen;
• ’n prioriteitslys van herstelwerk en kapasiteitsherstel saam te stel wat binne die metro se middele uitvoerbaar is;
• praktiese voorstelle maak vir die aanstelling en ontplooiing van gekwalifiseerde vakmanne bo onnodige bestuursverslae;
• veilige terugvoering en lasvermindering te beplan totdat permanente herstel voltooi is; en
• saam met gemeenskappe en die private sektor sonkrag en mikronetwerke te ondersoek waar die metro se netwerk nie vinnig genoeg herstel kan word nie.
Belangstellendes met toepaslike hoëspanningservaring kan hul besonderhede en ’n kort samevatting van hul kundigheid stuur na WillieSpies@tshwane.gov.za.
Die paneel sal op meriete saamgestel word en sal gereed moet wees om dadelik met werk te begin sodat ’n omkeerplan na die verkiesing in werking gestel kan word.
Op 4 November besluit kiesers of Pretoria ’n stad met werkende substasies, bevoegde tegnici en waarde vir belastinggeld gaan wees.
Die VF Plus is gereed om daardie mandaat met die regte mense en ’n bekostigbare plan uit te voer.


