"Die VF Plus het die EFF vandag tydens vraetyd aan die president gekonfronteer met dié party se standpunt dat Suid-Afrika onbepaald op Vlak Vyf in ‘n grendelstaat moet bly om die sogenaamde ‘wit ekonomie” tot ‘n val te bring nie," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.
"President Cyril Ramaphosa is gevra om hieroor standpunt in te neem en sy antwoord was dat die regering nie met die standpunt van die EFF saamstem nie.
"Dit is aan die president gestel dat hy self die situasie post Covid-19 vergelyk met ‘n na-oorlogse situasie en hy is gevra of dit ook die regering se standpunt is dat sekere sektore van die ekonomie eers vernietig moet word voordat dit weer opgebou kan word.
"Pres. Ramaphosa het geantwoord dat die ekonomie tot voordeel van alle Suid-Afrikaners ‘geherstruktureer’ moet word ná die inperking en dat die land nie kan bekostig dat enige sektor vernietig word nie.
"Hy het gesê dat sommige sektore wel in ‘n groot krisis verkeer, maar dat hulle gered en beskerm moet word in belang van die ekonomie en werkgeleenthede en vir alle Suid-Afrikaners," sê Mulder.