President Cyril Ramaphosa het hom vandag opnuut sterk verbind tot Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) en onteiening sonder vergoeding (OSV) as deel van toekomstige ANC-beleid terwyl die VF Plus volstaan by sy siening dat dit die land se toekoms en sy ekonomie juis verder sal vernietig.
President Ramaphosa het gereageer op vrae van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, tydens vraetyd in die parlement.
Die president is onder meer gevra hoe hy beplan om die ekonomie te hervorm om meer inklusief te wees, asook ook die toekomstige proses om grondhervorming te versnel vir ‘n meer produktiewe ekonomie sonder om die fiskale posisie van die land te verswak.
Uit sy antwoorde blyk dit duidelik die president verwar die begrippe inklusiwiteit en ras. Aan die een kant sê hy die ekonomie moet inklusief wees en dat daar in Suid-Afrika nie meer plek is vir ras nie.
Aan die ander kant maak hyself ras onlosmaaklik deel van die diskoers deur sy verbintenis tot SEB en RA en OSV. Hieruit blyk dit dat die witmense van Suid-Afrika nie werklik deel is van sy toekomsperspektief vir die land nie.
Die VF Plus se siening hieroor verskil wesenlik van die president se perspektief. Die VF Plus meen dat ras inderdaad geen rol in die ekonomie moet speel nie. Meriete moet die enigste kriterium wees waar dit gaan oor geleenthede soos werk, studiebeurse en sake-geleenthede, nie kleur nie.
Pres. Ramaphosa is besig om ‘n onreg van die verlede te vervang met ‘n toekoms-onreg waar witmense klaarblyklik onbepaald die prys vir die ANC-regering se mislukkings sal moet betaal.
Die VF Plus het ‘n uitdaging van die president aanvaar om na vore te kom met voorstelle vir ‘n beter Suid-Afrika vir al sy inwoners. Die voorstelle sal ingedien word en sal gegrond wees op vryemark-beginsels waarin ras geen rol speel nie, maar meriete.
Wat die kwessie van OSV aanbetref, was dit opvallend dat president Ramaphosa nie gereageer het op die VF Plus se stelling dat die Amerikaanse minister vir buitelandse sake gesê het ‘n voortsetting van OSV sal die land se ekonomie vernietig nie.
Dit skep die indruk dat die president in ‘n staat van ontkenning is rakende die nadelige gevolge van OSV. Hy ignoreer in die proses die waarskuwing van een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote en dit kan bydra om die ekonomie verder te vernietig.