Die Tshwane-metro se voorgestelde beleidsraamwerk vir die vergoeding van lede van die metro se waardasie-appèlraad, is ontoereikend, ‘n blote roetine en onaanvaarbaar.
Belangrike aspekte soos hoeveel lede aangestel gaan word en watter rade aangestel word in ʼn raad wat reeds onder finansiële druk is, word nie aangedui nie.
Die verslag kan nie ondersteun word voordat daar meer duidelikheid hieroor verskaf word nie.
Die verslag bevat geen inligting rondom voorsorgmaatreëls om te voorkom dat die stelsel misbruik word nie en geen inligting oor die goedkeuring van reistoelae, navorsingstyd of gereelde verslagdoening aan die raad nie.
Finansiële dissipline gaan nie net daaroor om te beheer wat bestee word nie, maar ook om te kies om nie te bestee totdat al die feite beskikbaar is nie.
Die goedkeuring van ʼn beleid sonder volledige kosteberekening, personeelplanne en verslagdoeningsmeganismes kom neer op die skryf van ʼn blanko tjek ten koste van die metro se inwoners.
Die VF Plus sal voortgaan om te veg vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en gesonde finansiële bestuur in die Tshwane-metro.


