Die parlementêre portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelik ontwikkeling is vandeesweek met ’n strategiese beplanningsessie besig, wat uiteenlopende voorleggings insluit. Dit geskied teen die agtergrond van mnr. Jimmy Manyi van MK wat met ’n privaatlidwetsontwerp voorstel dat alle grond in Suid-Afrika aan die staat moet behoort.
Intussen het pres. Cyril Ramaphosa in Zimbabwe aangedui in watter rigting die toekoms sal gaan as dit van hom afhang. Met die opening van die nasionale landbouskou in Zimbabwe verlede naweek, het pres. Ramaphosa dié land geloof vir die “noodsaaklike” grondhervorming wat daar plaasgevind het.
Hy het verwys na Zimbabwe wat in 2000 met ‘n omstrede grondhervormingsproses begin het waartydens beslag gelê is op wit boere se plase en aan lojaliste van die regerende Zanu-PF uitgedeel is.
Opleiding, kennis en ervaring is nie in ag geneem nie.
In die jare daarna het Zimbabwe se ekonomie, waarvan landbou die hoeksteen was, in duie gestort. Die regering skryf dit aan klimaatsverandering en droogtes toe, maar droogtes teister Zimbabwe nog altyd van tyd tot tyd. In hierdie geval het sowat ‘n kwart van die bevolking hul land verlaat, terwyl armoede wyd verspreid is onder diegene wat agterbly.
Pres. Ramaphosa noem Zimbabwe se grondhervorming egter noodsaaklik en ambisieus. Dit is dus duidelik dat selfs nie die vernietigende gevolge daarvan op Ramaphosa ‘n indruk maak nie.
Die werklike boodskap wat Ramaphosa aan Suid-Afrikaners bring, is dat hongersnood en massa-emigrasie heel aanvaarbaar is, mits dit help om historiese wanbalanse reg te stel.


