Dit is ʼn skande dat die Universiteit van Stellenbosch (US) nie studente op die studenteraad wil hê net omdat hulle klaarblyklik “pro-Afrikaans” is nie.
Die VF Plus verwelkom daarom die optrede van AfriForum Jeug wat met regstappe die US wil dwing om af te sien van sy pogings om pro-Afrikaanse studente te diskwalifiseer om aan die universiteit se studenteraadsverkiesing deel te neem.
Luidens ʼn mediaverklaring van AfriForum Jeug het die herrie ontstaan nadat die studente op onafhanklike sosiale mediaplatforms as “pro-Afrikaanse kandidate” gepromoveer is.
Die platforms bekend as “Stellenbosch staan op” en “Studenteplein” het glo in hul eie hoedanigheid opgetree om hul volgers aan te moedig om aan vanjaar se SR-verkiesing deel te neem en dat daar vir die pro-Afrikaanse persone gestem moet word.
Die verklaring lui voorts dat die US-verkiesingskommissie die groep studente hieroor by die studentehof aangekla het en gevra het dat die groep gediskwalifiseer word van die verkiesing.
Die “verkiesingsveldtog” was volgens die kommissie strydig met die studentegrondwet en die universiteit se verkiesingsreëls.
Die studentehof het teen die verkiesingskommissie beslis. Die kommissie het nogtans die studente op 28 Augustus in kennis gestel dat hulle binne 24 uur “bewyse moet lewer” oor waarom hulle nie gediskwalifiseer moet word nie.
Die studente en hul regsverteenwoordiger voer aan dat die onus op die US rus om te bewys dat die studente self by die veldtog betrokke was en nie op die studente nie.
Hierdie optrede van die universiteit herinner aan die gebeure rondom die konvokasie se uitvoerende komitee-verkiesing vroeër vanjaar toe die universiteit ook probeer het om pro-Afrikaanse persone uit die wedloop te skors.
Dit het misluk en die pro-Afrikaanse groep is met ʼn groot meerderheid verkies.
Vir die VF Plus is dit duidelik dat die US nie eens meer probeer om sy afkeur in Afrikaans te verdoesel nie maar openlik ʼn geveg aanknoop teen alles en almal wat as Afrikaans gesien word.
Die tyd het egter duidelik aangebreek dat mense wat opstaan en veg vir Afrikaanse se regmatige plekkie in die US-son, nie meer gaan toelaat dat hul regte vertrap word nie.
Wat Afrikaans aanbetref, weet die US se bestuur duidelik nie wat Afrikaanssprekendes weet nie.
Christiaan Hoon
VF Plus-jeugleier: Wes-Kaap