Die VF Plus verwelkom die Tshwane-metro se twee progressiewe en broodnodige beleidsbesluite rakende kleinskaalse kragopwekking en handel wat binnekort vir openbare deelname oopgestel word.
Hierdie besluite volg op ʼn toename in die vraag na ingebedde kleinskaalse kragopwekking weens die stygende koste in elektrisiteit en die bedreiging van beurtkrag op die Suid-Afrikaanse kragnetwerk.
Namate sonpaneelstelsels in huise en sake-ondernemings meer algemeen word, is dit hoog tyd dat hierdie beleid ingestel word.
Dit is ook in lyn met die VF Plus se beleid dat kragopwekking gedesentraliseer moet word om gemeenskappe te bemagtig om meer selfonderhoudend te wees.
Kleinskaalse plaaslike kragopwekking en handel laat inwoners toe om surplus elektrisiteit aan die metro se kragnetwerk te verkoop.
Hierdie beleid is ʼn stap in die regte rigting vir die daarstelling van ʼn raamwerk vir die metro om meer sakegeleenthede in hierdie sektor te verken en ʼn vrye mark te fasiliteer vir kleinskaalse kragopwekkers om transaksies met mekaar te doen.
Kragtens die kleinskaalse ingebedde opwekkingsbeleid kan die metro netwerkverbindings vir kleinskaalse ingebedde kragopwekkers tot 1 MVA magtig sonder ʼn opwekkingslisensie.
Installasies van 1 MVA of meer moet ‘n opwekkingslisensie of ‘n vrystellingsbrief van Nersa verskaf, anders sal hul aansoek afgekeur word.
Enige installasie wat uitsluitlik bedoel is vir die verkoop van elektrisiteit, ongeag die grootte, sal ook ʼn Nersa-lisensie benodig.
Die handelsbeleid stel die metro in staat om toegang tot die verspreidingsnetwerk te fasiliteer wat kleinskaalse kragopwekkers toelaat om surplus elektrisiteit aan die metro terug te verkoop.
Hierdie beleidsraamwerk vereis dat die metro ‘n tarief hef in ooreenstemming met die Wet op Elektrisiteitsregulering (ERA) vir die gebruik van sy verspreidingsnetwerk deur private energieverskaffers.
Die beleidsbesluite sal binnekort oopgestel word vir openbare konsultasie aan inwoners om insette te lewer voordat dit voor die raad sal dien vir finale goedkeuring.
Die VF Plus sal self ook met belanghebbendes in gesprek tree om konstruktiewe insette daaroor te lewer.