Die VF Plus het Noordwes se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), Oageng Molapisi, versoek dat dringend by die Mamusa-plaaslike munisipaliteit ingegryp word om ʼn totale ineenstorting van dienste te voorkom.
Mamusa bedien Amalia en Schweizer-Reneke.
Mamusa is die afgelope maande weer in omstredenheid gedompel weens onstabiliteit in die munisipale bestuur, politieke inmenging, beweerde onreëlmatige aankope, onderbrekings in basiese dienste en selfs die wanbetaling van salarisse.
In die afgelope maand is die waarnemende munisipale bestuurder en die korporatiewe direkteur se dienste skielik beëindig wat verdere onsekerheid onder werknemers in die munisipaliteit veroorsaak.
Salarisse van werknemers en raadslede word gereeld laat, of slegs gedeeltelik betaal, wat verder die moreel in die munisipaliteit ondermyn.
Ten spyte van gereelde kontantvloeiprobleme word groot bedrae egter aan diensverskaffers oorbetaal vir produkte en dienste teen onrealisties hoë pryse.
Só is R177 059 onlangs aan grassnyers bestee en skootrekenaars is teen R36 000 per eenheid aangekoop. Twee lyfwagte is ook in Maart teen R230 000 per maand aangestel. Nuwe stoele vir die raadsaal is teen R162 500 aangekoop. Dit beloop R6 500 per stoel.
Dit is van kritieke belang dat daar onmiddellik by Mamusa ingegryp word om ʼn totale ineenploffing van munisipale dienste in die gebied te voorkom.
Die VF Plus sal voortgaan om wanbesteding en wanbestuur in die munisipaliteit te ontbloot en druk toe te pas dat tydige regstellende stappe geneem word.
Esmé Venter
VF Plus-raadslid: Mamusa-plaaslike munisipaliteit