Die VF Plus het tydens ʼn raadsvergadering van Tshwane se metroraad aanbeveel dat verskeie interne waardeerders en amptenare van die metro strafregtelik aangekla moet word.
Dié aanbeveling volg op ʼn verslag wat voor die raad gedien het rakende grond wat die metro in 2013 aangekoop het.
Die verslag behandel breedvoerig die waardasieprosesse met die aankoop van gedeeltes van Hartbeeshoek, Donkerhoek en Derdepoort.
Luidens die verslag verskil die markverwante- en die waardasiebedrae van die eiendomme met meer as R60 000 000.
Die metro het dus buitensporige kunsmatig-verhoogde pryse vir die eiendomme betaal.
Die VF Plus dring daarop aan dat die amptenare wat by hierdie transaksies betrokke was, die geld aan die raad moet terugbetaal en strafregtelik aangekla word. Die ondernemings wat geïmpliseer word, moet ook ondersoek word.
Die waardeerders wat betrokke was by die transaksies, moet na die SA Raad vir professionele eiendomswaardeerders verwys word.
Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om korrupsie en die wanaanwending van belastingbetalersgeld in die Tshwane-metro uit te roei en te veg vir ʼn skoon administrasie.