fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dringende ingryping oor voortslepende onwettige staking by Boitumelo-hospitaal in Kroonstad

Die LUR vir gesondheid in die Vrystaat, me. Montseng Tsiu, het ‘n grondwetlike plig om te verseker dat pasiënte nie benadeel word weens arbeidsgeskille wat tot onwettige stakings lei nie.

Die staking van verpleegpersoneel by die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad is onwettig omdat verpleging as ‘n noodsaaklike diens geag word ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge. Personeel mag nie staak nie.

Dit is nogtans betreurenswaardig dat die hospitaal se swak bestuur en tekort aan hulpbronne daartoe aanleiding gee dat personeel genoop voel om te staak.

Benewens die voortslepende staking is daar ook verskeie ander probleme by die hospitaal wat insluit ‘n voedseltekort, ‘n toerustingtekort en ‘n tekort aan skoonmakers.

Die hospitaal se kragopwekker wat tydens beurtkrag elektrisiteit aan die nier-eenheid en sekere teaters moet voorsien, is reeds twee weke buite werking.

Gevolglik word operasies en dialise-behandeling rondom beurtkragskedules beplan wat nie altyd akkuraat is nie.

Die VF Plus is veral bekommerd dat die hospitaal se kraamsaal weens die staking nie genoeg verpleegpersoneel het nie.

Intussen werk operasionele bestuurders ekstra skofte om ten minste noodsaaklike mediese dienste aan pasiënte te verskaf.

Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die LUR geëis dat sy dringend by die haglike omstandighede en swak bestuur van die hospitaal moet ingryp omdat pasiënte benadeel word.

Indien die LUR in gebreke bly om dringende stappe te neem ten einde dienste by Boitumelo-hospitaal te herstel en verbeter, sal die VF Plus genoodsaak wees om verdere stappe teen haar te neem.

Alles moontlik moet gedoen word om te sorg dat pasiënte gehalte gesondheidsorg binne die raamwerk van die Handves van Regte ontvang.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.