Dele van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park in die Vrystaat word tans deur grondbesetters beset wat luidens berigte meer as 1 458 skape en 57 honde aanhou.
Dit is uiters kommerwekkend aangesien dit die natuurlewe van die park bedreig.
Dele van die park word as 'n weiveld vir die vee van die besetters gebruik. Honde jag die wild met bewerings dat wild wreed verskeur word. Daar is glo ook geen oribi’s in die park oor weens die honde nie.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, me. Barbara Creecy, versoek dat haar departement ingryp sodat kwessies soos toegangsbeheer en omheining aandag geniet.
Daar moet strenger toegangsbeheer by die toegangspunte van die park toegepas word aangesien daar glo geen wagte by die hekke is nie en die heining rondom die park op sekere plekke heeltemal ontbreek.
Die biodiversiteit en wild van die park kan slegs beskerm word indien goed bewaakte heinings opgerig en in stand gehou word.
Die VF Plus het ook versoek dat Creecy die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nader om die besetters met alternatiewe weiveld by te staan.
Besetting van grond in nasionale parke skep ‘n gevaarlike presedent wat ‘n reuse bedreiging vir al die parke in Suid-Afrika inhou en mag onder geen omstandighede toegelaat word nie.
Die ANC–regering ag dit nie belangrik om nasionale parke te beskerm nie. Dit skep ‘n gevaarlike situasie waar natuurlike hulpbronne nie vir die nageslag beskerm en bewaar sal word nie.