Die nuus dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma in beheer gaan wees van die energie-ramptoestand, het yskoue water gegooi oor al die planne wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het om die krisis te bowe te kom.
Dr. Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het reeds die afkondiging oor die ramptoestand in die Staatskoerant gepubliseer.
Die feit dat dit ook weer bestuur gaan word sonder behoorlike parlementêre toesig, beteken dat Suid-Afrika uitgelewer is aan elemente wat nou reeds met gretige oë na die fondse en moontlikhede kyk wat met die ramptoestand kom.
Geen belofte of onderneming van pres. Ramaphosa sal hierdie vrese besweer nie. Veral nie aankondiging van ’n minister van elektrisiteit om die krisis te bestuur nie. Die ANC se rekord in dié verband is te bekend.
Pres. Ramaphosa se eie erkenning dat daar “niks nuut” is aan sy energie-aksieplan nie, is ’n goeie beskrywing van die sterk mate van skeptisisme waarmee die VF Plus dit begroet.
Dit is bloot ’n herhaling van die aksieplan wat hy reeds ses maande gelede aangekondig het en wat tot nou toe geen sukses behaal het nie.
’n Resep waarmee voorheen misluk is, sal nie werk bloot omdat dit herhaal word nie.
Die president se beloftes herinner aan dié van oud-president Jacob Zuma in 2016 dat Suid-Afrika onder die ANC “nooit weer” beurtkrag sal hê nie.
Dit was nadat pres. Ramaphosa, destyds adjunk-president, in 2015 as hoof van die sogenaamde “Eskom-oorlogkamer” aangestel is om die kragkrisis te takel.
Agt jaar later is daar steeds geen duidelik plan of oplossing nie. Die aankondiging dat nog ’n kabinetspos geskep word vir ’n minister van elektrisiteit, is duidelik nog ’n poging om die indruk te wek dat iets wel gedoen word. Dit is onnodig aangesien daar reeds ’n energie-minister is.
Die VF Plus se mening hieroor is dat daar eerder minder as meer staatsinmenging moet wees. Die krisis het juis ontstaan vanweë die ANC se oorregulering van die industrie.
Die res van die president se uitlatings oor die kragkrisis ken almal: Dit benadeel boere en bedreig voedselsekerheid, dit raak almal in Suid-Afrika, dit berokken die ekonomie groot skade.
Voorstelle wat onder ’n verantwoordelike regering moontlik resultate kon lewer, is waarskynlik gedoem tot mislukking met die ANC aan die stuur daarvan.
Dit is duidelik dat Suid-Afrika in die donker sal wees solank as wat die ANC-regering aan bewind is.
Oor werkskepping sê die president die ekonomie moet baie vinniger groei om werkloosheid te stuit. Ook dit weet almal.
Solank as wat regstellende aksie (RA), swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en ’n velerlei striemende arbeidswette in plek is, is daar geen kans op ekonomiese groei nie.
Dieselfde geld die land se verkrummelende spoornetwerk en die waterkrisis wat bykans meer dreigend as die kragkrisis op die horison lê.
Wat telekommunikasie aanbetref, praat pres. Ramaphosa eweneens oor “planne” om internetverbinding na landelike gebiede uit te brei. Ook hier is niks substantief nie. Net planne.
Dit is eweneens nie moontlik om enige waarde te heg aan die president se beloftes oor beleggings en beleggingsrade nie.
Met die ANC aan stuur van die Suid-Afrikaanse skip, sal beleggers veel eerder hul geld belê waar dit veilig is, waar ’n gunstige omgewing vir sake geskep word sonder die ewige swaard van onteiening oor hul koppe.


