Die VF Plus het ‘n strafregtelike klag by die polisie ingedien teen die waarnemende munisipale bestuurder van die Nala-plaaslike munisipaliteit (Bothaville, Wesselsbron), Nokufa Radebe, vir die oortreding van die nasionale minimumvereistes vir vullisterreine ingevolge die Afvalbestuurswet.
Beide die vullisterreine van Bothaville en Wesselsbron voldoen nie aan die minimumvereistes van die Afvalbestuurswet nie en hou ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners van dié dorpe in.
Swak toegangsbeheer, sekuriteit en regulering van die vullissterreine veroorsaak dat vullis buite die aangewese gebiede gestort word.
Rommel lê beide dorpe vol omdat die munisipaliteit nie vullis vanuit geskeurde vullissakke opruim nie. As die munisipaliteit egter by die vullisverwyderingsskedule hou, sal daar nie ‘n geleentheid wees om sakke oop te skeur nie.
Hierdie blatante besoedeling van die omgewing skend inwoners se grondwetlike reg om te leef in ‘n gesonde en skoon omgewing.
Die VF Plus het ook in ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR vir kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Makalo Mohale, versoek dat die departement op provinsiale vlak ingryp aangesien geen van die vullisterreine in die munisipale gebied aan wetlike vereistes voldoen nie.
Die VF Plus kan nie toekyk hoe die ANC-regering plattelandse dorpe in enorme vullistereine laat verval nie en sal aanhou veg vir beter dienslewering.
Navrae: 082 770 6201