fbpx
Vryheidsfront Plus

Kleinsake: Regering wurg ruggraat van die ekonomie dood

(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van kleinsake-ontwikkeling)

Kleinsake-ondernemings is die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie. Tog wurg die ANC-regering hierdie sektor dood. Beperkende wetgewing, beleidsonsekerheid en onbevoegdheid maak dit al hoe moeiliker vir entrepreneurs om ondernemings te begin en uit te brei.

Die regering kan nie volhoubaar werk skep nie en kan net so min die miljoene wat van staatstoelaes afhanklik is, onbepaald onderhou. Hierdie afhanklikes aan die staat groei by die dag weens die ekonomiese krisis wat werkgeleenthede verminder.

Om hierdie rede is elke kleinsake-onderneming van kardinale belang. Hierdie ondernemings skep werk, vergroot die belastingbasis en stimuleer ekonomiese groei. Elk van hierdie ondernemings wat sy deure moet sluit, verteenwoordig werkverlies en ekonomiese agteruitgang.

Suid-Afrika beklee die 84ste plek in die wêreld van lande met betrekking tot hoe maklik dit is om ‘n sake-onderneming te bedryf en die situasie verswak daagliks. Strukturele veranderinge is nodig om dit te verander. Hiersonder is die Covid-19-noodbefondsing nutteloos.

Om hierdie veranderinge post Covid-19 te bewerkstellig, moet die departement nou reeds begin werk aan sinvolle planne wat ‘n interdepartementele hervormingsprogram insluit.

Dit is straks maklik om ‘n onderneming by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) te registreer, maar ander statutêre prosesse soos lisensiëring en die vereiste registrasieprosesse rakende WVF, munisipale handelslisensies, belasting en BTW, word ondermyn deur rompslomp en onbevoegdheid wat dit in baie gevalle ‘n onbegonne taak maak.

Die ander probleem met die Covid-19-noodfonds is dat dit diskrimineer op grond van ras. Die virus en honger diskrimineer nie.

Talle sake-ondernemings moes reeds sluit weens die gevolge van die regering se irrasionele inperkingsmaatreëls. Wanneer die ekonomie gesluit word soos nou, moet hulp verleen word aan ondernemings wat geraak word. Dit sou doelloos wees om aan die een kant lewens te red en aan die ander kant mense se toekoms te vernietig.
Die feit dat sake-eienaars van sekere rasse uitgesluit word van Covid-19-hulp, is kortsigtig aangesien Suid-Afrikaners van alle rasse ly wanneer ‘n sake-onderneming moet sluit, ongeag wat die velkleur van die eienaar is. Dit is skandalig.

Teen hierdie agtergrond beteken die departement van kleinsake-ontwikkeling bitter min. Die departement help nie om hierdie ondernemings staande te hou nie.

Die ANC-regering vernietig Suid-Afrika se ekonomie. Die verlede kan nie die skuld kry vir ongelykheid nie. Die ANC met die skuld hiervoor dra vir verkeerde prioriteite, swak dienslewering, vervalle infrastruktuur en korrupsie waaruit armoede, werkloosheid en ongelykheid voortspruit.

Die ANC wil die armes afhanklik hou van die staat vir politieke gewin. Die virus genaamd ANC is daarom verantwoordelik vir die ekonomiese vernietiging van die land en sy leeg geplunderde staatskas.

Navrae: 082 674 6670

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.