(Debat in parlement: Aansuiweringsbegroting vir departement van wetenskap en innovasie)
Die departement van wetenskap en innovasie is 'n departement wat uitsonderlik goed presteer binne die Suid-Afrikaanse konteks. Deur verskeie entiteite handhaaf dit Suid-Afrika se posisie in die internasionale ekostelsel van wetenskap en innovasie.
Dit beteken dat mense deur samewerking, infrastruktuur en finansiering bemagtig word om hul bydrae te lewer. Die sleutelbydrae van die departement in die huidige pandemie-gedrewe krisis, verhoog die ironie dat dieselfde krisis tot 'n tien persent-besnoeiing in begroting gelei het.
Wetenskap en innovasie hang van mense af. Laboratoria en ander infrastruktuur kry eers waarde wanneer die menslike aspek daaraan toegevoeg word.
Reeds voor die grendelstaat het entiteite in hierdie departement gewaarsku dat hierdie soort mense internasionaal in aanvraag is en dat hulle moeilik kompeteer om dié mense te behou. Die huidige besnoeiings gaan beslis nie help nie, aangesien bevriesing van salarisse deel daarvan is.
Die toewyding van Suid-Afrika se wetenskaplikes aan ons land en vasteland word bevestig deur hul teenwoordigheid hier. Hulle kan kies waar in die wêreld hulle wil werk; en dit is hier. Hulle is Afrikane, of hulle swart, bruin, wit, of van Indiese afkoms is. Hulle wil hier werk, maar die vraag is vir hoe lank hulle nog kan.
Nagraadse studente en transformasie-gedrewe versnelling van die loopbaantrajekte in wetenskap en die akademie word deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) befonds. Hierdie befondsing is met byna R97 miljoen besnoei, wat transformasie benadeel.
Volgens die VF Plus ontbloot hierdie werklikheid die belangrikste blindekol van rewolusionêre denke. Daarvolgens is vernietiging van die ou bedeling eintlik voordelig, sodat 'n beter, gelyke bedeling uit die as kan opstaan.
In werklikheid veroorsaak so 'n vernietiging dat diegene wat vooraf bemagtig was, makliker herstel en die gaping tussen hulle en agtergeblewenes verder vergroot. Die ongelykheid word dus groter, nie kleiner nie en dit is wat tans voor ons oë afspeel.
Die SKA radio-astronomieprojek is een van die grootste wetenskapsprojekte in die wêreldgeskiedenis. Hoewel dit tot groot beleggings in Suid-Afrika lei, is die VF Plus steeds van mening dat te min daarvan werklik na die Noord-Kaapse dorpe van Williston en Carnarvon gekanaliseer word.
Die werk word elders in Suid-Afrika gedoen, terwyl net die apparatuur in die Noord-Kaap geplaas word. Personeel vir gespesialiseerde onderhoud woon nie permanent in hierdie dorpe nie.
Indien die Vaal Universiteit vir Tegnologie se Upington-kampus na 'n volledige universiteit vir tegnologie met Afrikaans as onderrigtaal omskep word, sal die armstes van die armes in die Noord-Kaap werklik deur die SKA bevoordeel word.
Die VF Plus vrees dat hierdie aansuiweringsbegroting later erken sal word as 'n vroeë doodsklok vir eersterangse wetenskap en innovasie in Suid-Afrika.
Navrae: 074 166 5540