fbpx
Vryheidsfront Plus

Verwronge ANC-prioriteite kan groot verleentheid vir SA raak – selfs al met rugbywêreldbeker

Die moontlikheid is nie uitgesluit dat die Springbok-rugbyspan voortaan in die Wêreldbeker-toernooi sonder die landsvlag of die volkslied kan aantree nie.

Verkeerde ANC-prioriteite en blote onbevoegdheid het daartoe gelei dat die regering moontlik die spertyd gaan mis om wetgewing rakende opkikkervrye sport op datum te bring.

Hierdie wetgewing moet voor 13 Oktober deur die parlement goedgekeur word om te voldoen aan die vereistes van die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels.

Daar bestaan geen moontlikheid dat hierdie spertyd gehaal kan word nie aangesien daar nog geen werk gemaak is om met die formele prosesse van die wetgewing te begin nie.

ʼn Land wat nie hieraan voldoen nie, moet onder ʼn neutrale vlag aan internasionale sportgeleenthede deelneem en mag ook nie gasheer speel vir groot sportgeleenthede nie.

Nasiebou word oor die laaste jare toenemend gedra deur sportgeleenthede waar sportlui se prestasies Suid-Afrikaners soms nog tydelik saambind.

Die feit dat die regering sy verpligting rakende die wetgewing verontagsaam het, kan nou hierdie geleentheid ongedaan maak en wys opnuut hoe leeg ANC-retoriek oor nasiebou is.

Waar dit egter kom by wetgewing wat vir die ANC belangrike propaganda is in die voorverkiesingsjaar, soos die Wet op Gelyke Indiensneming, die NGV-Wet en die kwessie van onteiening sonder vergoeding, word geen steen onaangeroer gelaat nie. Al is dit hoe skadelik vir die land en sy mense

Die kode en vereistes van die internasionale dwelmwaghond in sport is al op 1 Januarie 2021 gewysig, maar die spertyd vir lande om deur wetgewing hieraan te voldoen, is tot 13 Oktober vanjaar uitgestel.

Luidens berigte is die departement van sport, kuns en kultuur glo al ʼn jaar gelede gewaarsku om met die proses te begin.

Tot in hierdie stadium is daar geen wetgewing in dié verband voor die betrokke portefeuljekomitee nie en dit sal daarom waarskynlik nie eens in die huidige parlement se termyn hanteer word nie.

Die VF Plus glo dat die Springbokke wel die potensiaal het om die wêreldbeker te verower. Indien die internasionale bepalings oor dwelms in sport afgedwing gaan word, is die moontlikheid dan nie vergesog dat die span die beker sonder lied of vlag in ontvangs sal moet neem nie.

Dit sal ʼn ongekende sportverleentheid vir elke Suid-Afrikaner wees.

Die ANC-regering het op elke ander gebied lank reeds vir Suid-Afrikaners ʼn verleentheid geword. Kiesers kan die geleentheid volgende jaar nie laat verbygaan om van hom ontslae te raak nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.