fbpx
Vryheidsfront Plus

Nzimande se houding teenoor Afrikaans wys VF Plus is reg oor Afrikaanse onderwys en Grondwet-artikel

Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, se herbesoek oor Afrikaans as inheemse taal bevestig eintlik wat hy van die begin af gesê het: Afrikaans is ‘n histories bevoorregte taal en sal nie deur die staat ondersteun word voordat Afrika-tale tot dieselfde vlak ontwikkel het nie.

Die nuwe Beleidsraamwerk vir Hoër Onderwys wat vroeër vandeesmaand in die Staatskoerant verskyn het, voldoen aan die 2021-hofuitspraak dat dit Afrikaans as inheemse taal moet erken.

Die byvoeging oor die voorheen bevoorregte status van Afrikaans, ontneem die erkenning egter van enige waarde.

Sedert sy totstandkoming in 1994 dring die Vryheidsfront (later Vryheidsfront Plus) daarop aan dat kultuurregte, soos onderwys, op ‘n vaster voet as ooreenkomste oor beleid moet staan.

Terwyl die sterkste grondslag vir enige kultuurgroep ‘n eie staat is, kan sekere regte ook binne ‘n staat soos Suid-Afrika gehandhaaf word. Daarvoor moet grondwetlike bepalings, soos artikel 235 oor selfbeskikking, aangewend word.

Tot dusver het skoolbeheerliggame en hoër onderwysinstellings van sulke meganismes weggeskram.

Die benadering was om liewer aan die regering se wense te voldoen en daarmee ‘n goeie gesindheid te “koop”. Voorheen Afrikaanse universiteite het hul taalbeleid selfs aangepas nog voor die regering dit vereis het.

Hierdie paaibeleid help ongelukkig nie teen ‘n regering wat liewer ‘n eentalig-Engelse nasie tot stand wil bring as om inheemse tale te ontwikkel nie.

Geen mate van “onmisbaarheid” of toewyding tot die nasiebouprojek kan die staat tot erkenning van die waarde van Afrikaans oorreed nie.

Terwyl daar niks gedoen word om ander inheemse tale te ontwikkel nie, dring Nzimande daarop aan dat daardie tale eers tot dieselfde vlak as Afrikaans moet ontwikkel voor dit op staatsteun kan reken. Dit is ‘n ander manier om te sê: Nooit!

Onderwys staan sentraal in die reg tot selfbeskikking. ‘n Afrikaanse departement van onderwys, wat basies- en hoër onderwys in Afrikaans voorsien, behoort deel van die Suid-Afrikaanse bedeling te word.

Onderwysinstellings moet besef dat apolitiese onderwys nie bestaan nie. Hoewel partypolitiek nie binne onderwys tuishoort nie, is onderwys wesenlik ‘n politieke onderneming.

Die sogenaamde Bela-wetsontwerp en die “reggestelde” hoër onderwys-beleidsraamwerk toon dat die regering dit besef en politieke beheer oor onderwys net sal versterk.

As Afrikaanse onderwys moet oorleef, sal dit verg dat Afrikaanse onderwysdenkers en -leiers die politieke betekenis van hulle werk begryp en aangryp.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.